Zuma: Gevaarlik om land deur howe te wil regeer
Zuma: Gevaarlik om land deur howe te wil regeer

Zuma: Gevaarlik om land deur howe te wil regeer

Die president van Suid-Afrika sê die Helen Suzman-stigting en Freedom Under Law probeer om die land deur die howe te regeer.
Estelle de Bruyn
Die Helen Suzman-stigting (HSS) en Freedom Under Law (FUL) het ''n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria ingedien om pres. Jacob Zuma te dwing om Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, dr. Torie Pretorius, waarnemende spesiale direkteur van openbare vervolging, en adv. Sibongile Mzinyathi, Noord-Gautengse direkteur van openbare vervolging, te skors, hangende ''n ondersoek na hul geskiktheid om hul poste te beklee.

Die aansoek is ingedien in reaksie op die mislukte vervolging van Pravin Gordhan, minister van finansies, Oupa Magashula, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), en Ivan Pillay, voormalige adjunkhoof van die SAID.

Zuma sê in sy beantwoordende ­beëdigde verklaring ''n nieregeringsorganisasie of ''n lid van die publiek kan nie eis dat hy ''n grondwetlike uitvoerende mag moet uitvoer nie.

“Enige president wat ''wanregeer'', sal in ''n demokratiese staat deur die kiesers ''gestraf'' word. Dit is ''n baie gevaarlike roete om ''n kultuur toe te laat waar lede van die publiek of entiteite soos die applikante toegelaat word om deur die howe te regeer. Dit is wat die applikante probeer doen. Die applikante nooi die hof uit om die land deur die howe te regeer.”

Die aansoek is ''n poging om sy uitvoerende magte te omseil, voer Zuma aan.



Sê hoekom hulle moet bly

Sedert die HSS en FUL se aansoek ingedien is, het Zuma aan Abrahams, Mzinyathi en Pretorius geskryf hulle moet verduidelik hoekom hy hulle nie moet skors nie.

Hy sê die hof moet die proses wat hy nou van stapel gestuur het, toelaat om te ontvou en om sy magte op ''n rasionele manier uit te oefen.

“Die hof moet nie gesien word as dat hy inmeng in ''n voortgesette proses, waarin hy vereis dat prosedurele regverdigheid nagekom word nie. Om dit te doen, sou wees om die skeiding tussen die uitvoerende gesag en die regsprekende gesag te vervaag in kwessies wat nog nie afgehandel is nie,” sê Zuma.

Daar is nie gronde vir dringendheid nie, aangesien daar genoegsame voorsiening is om, as hy ''n besluit oor die kwessie geneem het, die besluit te hersien.

Hy het op 7 November aan die HSS en FUL gesê hy volg ''n proses om ''n besluit oor die kwessie te neem en het dus nie “misluk” om ''n besluit te neem nie.

Zuma sê hy moet die geleentheid gegee word om sy grondwetlike mandaat behoorlik uit te voer sodat hy sy diskresie “in goeder trou en sonder om my magte verkeerd te verstaan”, kan uitvoer. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!