Zuma klou
Zuma klou

Zuma klou

‘n ANC-koukusvergadering het gistermiddag pres. Jacob Zuma se lot bespreek.
Llewellyn Prince – Alle ANC-LP’s in die parlement is Woensdagoggend na ’n dringende koukusvergadering ontbied – heel waarskynlik om pres. Jacob Zuma se lot te bespreek.

Nonceba Mhlauli, ANC-woordvoerder in die parlement, het Dinsdag bevestig dat Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, die dringende koukusvergadering vir Woensdagoggend omstreeks 10:00 geskeduleer het.

Mhlauli wou nie uitwei oor die agenda vir die vergadering nie, maar dit is reeds bekend dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) tydens sy marathonvergadering Maandagaand in Pretoria besluit het om Zuma te herroep. Zuma weier na bewering om te bedank.

Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van die grondwetwaghondorganisasie Casac, het vroeër gesê dat die ANC sy koukus opdrag kan gee om ’n mosie van wantroue in die parlement teen Zuma in te dien as hy sou weier om vrywillig te bedank.

Alle portefeuljekomitee-vergaderings vir Woensdagoggend is ook na 14:00 verskuif, moontlik om tyd te maak vir die ANC-koukusvergadering.

Intussen het John Steenhuisen, DA-hoofsweep, ook Dinsdag bevestig dat hoofswepe van alle partye in die parlement versoek is om Woensdagoggend om 08:00 te vergader “om die onlangse gebeure” in die land te bespreek.

Die hoofsweepvergadering vind gewoonlik om 10:00 elke Woensdagoggend plaas.

Steenhuisen het ook getwiet dat hy hoop die vergadering “sal ons Valentynsdaggeskenk wees wat finaal duidelikheid oor (Zuma se uittrede of #Zexit) sal gee”.

Al wat Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, oor die hoofsweepvergadering wou sê, was dat “hoofswepe normaalweg elke Woensdagoggend omstreeks 10:00 vergader”.

Intussen het Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, ook Dinsdagoggend bevestig dat Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, op die EFF se versoek gereageer het dat sy beplande mosie van wantroue in Zuma vervroeg word.

Volgens die EFF wil Mbete eers daaroor met Mthembu en adj.pres. Cyril Ramaphosa, in sy hoedanigheid as leier van regeringsake, konsulteer.

Die party het dit egter duidelik gestel dat as hy Dinsdag teen 13:00 nog nie terugvoering van Mbete ontvang het nie, hy die hof sal nader om Mbete te dwing om die mosie van wantroue te vervroeg. Dit is aanvanklik vir 22 Februarie geskeduleer.

Steenhuisen en ander opposisieleiers het Dinsdag ook die ANC se hantering van die Zuma-kwessie gekritiseer.

Volgens Steenhuisen is dit duidelik dat Ramaphosa en Zuma nie ’n ooreenkoms in hul “oorgangsgesprekke” bereik het nie en dat Zuma sy eiebelang weer voor dié van die land, die parlement en die ANC plaas.

Die staatsrede is verlede week uitgestel weens die dooiepunt in die onderhandelinge om van Zuma ontslae te raak.

Volgens Steenhuisen kan die ANC net deur middel van ’n mosie van wantroue in die parlement van Zuma ontslae raak as hy nie bedank nie, maar die regerende party kan dit ook nie doen voordat die EFF se mosie van wantroue gehanteer is nie.

Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê die ANC het met Zuma wat weier om te bedank ook geen ander keuse as om ’n mosie van wantroue teen hom in te dien nie.

“My voorstel is dat hulle met die EFF onderhandel om sy mosie te onttrek, omdat die kanse dan beter sal wees dat ’n ANC-mosie suksesvol sal wees.”

Bantu Holomisa, UDM-leier, het getwiet “Zuma is kwaad. Sy kollegas in die kabinet sal saam met hom moet bedank. Moet daarom nie bang wees vir ’n (EFF-)mosie van wantroue nie”. –

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!