Zuma oorleef nu00f3g u2018n aanslag
Zuma oorleef nu00f3g u2018n aanslag

Zuma oorleef nóg ‘n aanslag

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Dit was naelskraap, maar Suid-Afrika se parlement kon pres. Jacob Zuma nie gister tydens ‘n geskiedkundige, geheime stemming van sy amp onthef nie.

Dié omstrede staatshoof is letterlik nou ‘n kat wat ‘n negende lewe gegun is ná opposisiepartye se agste poging om hom te verwyder.

'n Totaal van 198 parlementslede het teen die mosie van wantroue gestem en 177 ten gunste daarvan. Nege lede het buite stemming gebly.

Volgens berekeninge het sowat 30 ANC-parlementslede gestem dat Zuma se kop moet rol.

Die voormalige eerste minister en Swapo-politikus, mnr. Nahas Angula, het in sy reaksie gesê geen regerende party sal onder enige omstandighede toelaat dat dit deur die opposisie omvergewerp word nie. Tog vind hy dit jammer dat die ANC so verdeeld is.

Die president van die DTA, mnr. McHenry Venaani, het gesê hy het verwag Zuma gaan oorleef, maar gemaan opposisiepartye, ook in Namibië, is besig om hul stemme teen korrupsie dik te maak.

"Dit moet 'n les vir leierskap in Afrika wees. Korrupsie is aan die orde van die dag en die samelewing gaan dit nie langer verdra nie," het hy gesê.

"Opposiepartye in Namibië is in die proses om saam te staan en ons gaan binnekort hof toe oor die SME Bank-sage," het Venaani gesê.

Die rand het binne minute ná Zuma die mosie van wantroue oorleef het, reeds met 1% teen die dollar verswak. Die geldeenheid het teen 18:48 met 14c tot R13,39 teen die Amerikaanse dollar teruggesak nadat dit vóór die uitslag nog teen R13,24 verhandel het.

Van vroegoggend af was verskeie betogings in Suid-Afrika reeds in aanloop tot die stemming oor die Demokratiese Alliansie (DA), die amptelike opposisie, se mosie van wantroue.

Kragtige argumente is deur die DA-leier, Mmusi Maimane, ten gunste van Zuma se herroeping aangevoer. Hy het verskeie ANC-leiers aangehaal wat reeds hul misnoë met Zuma se beleid, optrede en verbintenis met die omstrede Gupta-familie te kenne gegee het.

Die atmosfeer in die Nasionale Vergadering was plofbaar met Zuma-lojaliste wat luidkeels hul afkeur van enige kritiek teen Zuma laat hoor het.

Die leier van die Economic Freedom Fighters (EFF), mnr. Julius Malema, het gesê die stem was nie teen 'n demokraties verkose regering en president nie, maar teen die Guptas wat werklik vir die kabinetskommelings verantwoordelik was.

Mnr. Mangosuthu Buthelezi, leier van die Inkatha Freedom Party (IFP), het beklemtoon die mosie is gemik teen 'n persoon wat die land uitverkoop het aan die hoogste biër.

Hy sê gewone Suid-Afrikaners van alle politieke partye betoog in die strate van die land se stede teen Zuma en die wanorde wat hy in Suid-Afrika te weeg gebring het.

Verskeie vurige argumente is deur ANC-lede aangevoer, wat die mosie as kleinlike politiekery, regime-verandering en selfs ‘n staatsgreep ten behae van die magte van kapitalisme afgemaak het.

Volgens die leier van die Congress of the People (COPE), mnr. Mosiuoa Lekota, het oudpres. Nelson Mandela, saam met wie hy op Robbeneiland 'n gevangene was, gesê al het hy niks as 'n gevangene nie, het hy sy integriteit.

Hy het gesê Zuma het belowe om die grondwet te dien en te beskerm, maar hy het daardie mandaat aan die Guptas oorhandig.

In reaksie op 'n bydrae van 'n ANC-lid het Malema op 'n ordepunt gevra 'n blaastoets vir dronkbestuur ("breathaliser") moet volgende keer beskikbaar wees omdat “niemand wat nugter is sulke uitlatings sou maak nie”. Hy moes sy opmerking terugtrek.

Die debat is herhaaldelik onderbreek en die adjunkspeaker het sy hande vol gehad.

'n Hoorbare sug van verligting het uit die ANC-banke opgeklink toe 'n lid van die Pan African Congress (PAC) aangedui het die party sal nie vir die mosie stem nie.

Die speaker, me. Baleka Mbete, het voor die stemming gesê ‘n regsmening sal ingewin word oor of vakante setels uit die stemsom weggelaat moes word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!