Zuma se einde is verseu00ebl
Zuma se einde is verseu00ebl

Zuma se einde is verseël

Selfs die Zuma-lojaliste het klaarblyklik aanvaar president Jacob Zuma se dae is getel.
Die einde van pres. Jacob Zuma se tyd as president van Suid-Afrika is Donderdag ver­seël toe hy geappelleer het teen ’n hofbevel wat die mag vir die aanstelling van die direkteur van openbare vervolging aan die adjunkpresident oordra. Zuma-lojaliste wou boonop in die geheim dramatiese aanstellings in semistaatsinstellings soos Eskom doen om Zuma se belange te dien lank ná sy vertrek.

Dít het ondersteuners van adj.pres. Cyril Ramaphosa op die eerste dag van die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) woedend gemaak.

Hulle het die nuwe ANC-leier se pleidooie geïgnoreer dat Zuma met waardigheid behandel word en ’n mosie ter tafel gelê dat ­Zuma moet bedank.

“Daar was ’n haas om sleutelposte te vul. In die meeste gevalle sou mense in lang kontrakte van tot vyf jaar aangestel word. Dit is korrupsie,” het ’n senior leier gesê.

Die aanslag teen Zuma is toe gelei deur die nuwe NUK-lid, David Masondo, en die mosie is deur die oudpolisiebaas Bheki Cele gesekondeer.

Selfs die Zuma-lojaliste het klaarblyklik aanvaar Zuma se dae is getel en hulle nie juis teëgesit nie.

‘Die ouman het nie opsies nie’

City Press verneem Ramaphosa het die debat oor Zuma toegelaat.

Daar is nie oor die kwessie gestem nie en daar is besluit dat die topses Zuma se magsoorname, wat binne ’n week kan gebeur, bestuur.

“Die ouman het nie meer opsies nie. Die balans is ten gunste van Ramaphosa. Cyril aanvaar die raad van swaargewigte soos Cele, oor wie niemand kan loop nie. Hul siening, tesame met dié van sakeleiers, is dat Cyril dadelik moet oorneem,” het ’n leier gesê.

’n Kabinetskommeling kom ook, maar dit sal vertraag word totdat Ramaphosa van Davos, Switserland, ­af terugkeer.

Na verwagting sal baie van die ministers wat Zuma afgedank het, weer aangestel word terwyl dié wat by wanpraktyke betrek word, die trekpas gaan kry.

Diegene na aan Zuma sê hy was nie gekant daarteen dat Ramaphosa die staatsrede lewer nie, maar die oorweldigende gevoel is dat hy reeds voor die staatsrede op 8 Februarie moet loop.

Hy word ook gesien as ’n las vir die ANC se verkiesingsveldtog vir 2019.

Dit is duidelik dat ­Zuma nie meer mag het nie. Ná hierdie ­lekgotla sal sy mag al hoe meer ingeperk wees.

Ná die besluit dat Zuma moet bedank, het Ramaphosa die vergadering verlaat om Zuma in te lig sodat hy nie met ’n ompad daarvan uitvind nie.

In ’n duidelike teken dat Ramaphosa in volle beheer is, al het hy nie ’n groot oorwinning by die ANC-konferensie behaal nie, het die NUK ook die provinsiale besture in Zuma se sterkste provinsies, KwaZulu-Natal en die Vrystaat, ontbind.

Tussentydse leiers sal in dié provinsies oorneem. Daar is oor dié kwessie gestem.

Zuma is ook verder van die NUK vervreem omdat hy volhou die opdrag vir die staatskapingsondersoek moet wyer strek as wat adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, aanbeveel het.

Ramaphosa verkies om by Madonsela se voorstelle te hou.

Ramaphosa-ondersteuners beweer ook daar is ’n waninligtingsveldtog om die indruk te wek dat Ramaphosa Zuma “in ’n hoek druk as ’n herontplooide” van die ANC.

ANC-leiers sê Ramaphosa se leierskap in die staat het Zuma gelaat in ’n “rol van eerste minister, meestal seremonieel en ’n flou makou ten beste”.

Ramaphosa se raadgewers sê die nuwe ANC-president besef egter dat Zuma steeds beduidende steun onder ANC-kiesers geniet, veral in KwaZulu-Natal. Hy kan die ANC se veldtog daar voor volgende jaar se algemene verkiesing ’n hupstoot gee.

’n Zuma-bondgenoot het die “volwasse” manier geprys waarop die ANC sy vertrek hanteer en gesê dit was ’n “nederlaag vir dié wat van die dakke af skreeu en regimeverandering eis”.

“Zuma het nog altyd gesê hy is bereid om te luister, maar hy sal nie toelaat dat sy kamerade konkel met die vyand om hom te verwyder nie.”

Volgens ANC-bronne het die dramatiese week, wat uitgeloop het op die NUK se besluit, Maandagoggend in Luthuli-huis begin met ’n reeks vergaderings met ministers en leiers.

Ramaphosa het omtrent agt vergaderings gehad teen die tyd wat amptenare ’n voorstel aan die topses gemaak het oor hoe om sake reg te ruk in die organisasie en regering. Dit sluit ’n magsoordrag in.

Hy het onder ander met Michael Masutha, minister van justisie, en ­Fikile Mbalula, minister van polisie, vergader.

Dit het Mbalula se aankondiging Dinsdag moontlik gemaak dat Richard Mdluli, oudmisdaadintelligensiebaas wat R8 miljoen verdien het deur by die huis te sit, afgedank word.

Mbalula, wat ’n uitgesproke ondersteuner was van Nkosazana Dlamini-Zuma in Desember, het Ramaphosa en sy verbintenis tot die geveg teen korrupsie geloof.

Mbalula het ook van Berning Ntlemeza, die voormalige Valke-baas, ontslae geraak.

“Dit is duidelik dat Zuma nie meer mag het nie. Ná hierdie lekgotla sal sy mag al hoe meer ingeperk wees,” het ’n bron uit die binnekamers gesê.

Nog ’n ANC-leier het gesê: “Zuma is in ’n hoek, want daar is geen meer aptyt om nog langer te wag dat hy padgee nie. Die Buffel maak reeds die kamer skoon,” het die leier gesê.

Almal in die ANC wat by wanpraktyke betrek is, gaan aanspreeklik gehou word, het die bron gesê.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, en selfs Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, kan geteiken word.

“Sommige mense gaan geskok wees dat hulle aangesê word om te gaan ten einde die organisasie verdere verleentheid te spaar,” het die bron gesê.

Ramaphosa het ook gisteroggend met leiers van die alliansie vergader, wat al maande vra dat Zuma bedank.

Wat sake vir Zuma kan vererger, is die nuus dat Salim Essa, ’n sleutelbondgenoot van die Guptas, teen Zuma en die Guptas gedraai het en beplan om ’n beëdigde verklaring af te lê by Ntuthuzelo Vanara, die getuienisleier in die parlement se ondersoek na staatskaping.

Hy wil klaarblyklik ’n pleitooreenkoms hê. - Hlengiwe Nhlabathi, Setumo Stone en Sthembile Cele/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-01-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 29° Rundu: 20° | 27° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 20° | 25° Otjiwarongo: 21° | 29° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 22° | 31° Gobabis: 22° | 29° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 16° | 31° Ariamsvlei: 22° | 39° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 16° | 27° Mbabane: 20° | 29° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 19° | 23° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 22° | 31° Cape Town: 19° | 23° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 23° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 25° Harare: 16° | 24° #REF! #REF!