Zuma se 'VBS Bank' wil noteer
Zuma se 'VBS Bank' wil noteer

Zuma se 'VBS Bank' wil noteer

Jo-Mare Duddy Booysen
VBS Mutual Bank, wat in 2016 in die nuus was toe hy aan pres. Jacob Zuma geld geleen het om vir sy Nkandla-woning te betaal, beplan om op die JSE te noteer.

Die bank het R7,8 miljoen aan Zuma geleen nadat die hof beveel het dat hy 'n gedeelte van die koste van die aanbouings aan Nkandla moet terugbetaal.

Tshifhiwa Matodzi, voorsitter, sê die bank het reeds vier takke en hulle beplan om nasionaal uit te brei.

Die bank se kliënte is meestal in die plattelandse gebied en is kleinsake­ondernemings en huisbouers.

“Dit is 'n baie maklike besluit om te neem om binne die komende drie jaar te noteer,” sê Matodzi.

VBS het sy wortels in 'n bouvereniging van die 1980's wat in Venda gebaseer was. Venda het 'n mate van outonomiteit van die apartheidsregering voor 1994 gehad.

Die bank het 30 000 kliënte en sy deposito's beloop omtrent R800 miljoen.

Volgens Matodzi gaan VBS eers van 'n bouvereniging na 'n bank omgeskep word en dan gaan die notering plaasvind.

Hy sê hulle wil graag VBS se aandeelhouers uitbrei.

Matodzi sê Zuma is nie een van die VBS se grootste skuldenaars nie, maar is dalk onder die top20-huislenings wat toegestaan is.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) is 'n groot aandeelhouer van VBS en het 'n belang van sowat 25%.

Die OBK is die grootste fondsbestuurder in Afrika met meer as $120 miljard se pensioene van staatsamptenare wat hy bestuur.

Die bank het Donderdag 'n ooreenkoms met 'n kerkgroep geteken om bankkaarte aan die kerk se 6,8 miljoen lede uit te reik.

Dit beteken nie hulle gaan outomaties die bank gebruik nie, maar VBS hoop hulle sal uiteindelik kliënte word.

– Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer