Agt olifante kry halsbande

Vroeë waarskuwing nou moontlik
Mens-olifant konflik moet beter bestuur word.
Tanja Bause
Agt olifante in die Kamanjab-, Fransfontein- en Hoanib-gebied is met GPS-halsbande toegerus.

Die data wat van die olifant se halsband ingesamel word, help om die olifante se beweging te ontleed en te interpreteer. Dit help ook om vroeë waarskuwing aan mense in die konflikgebiede te bied.

Elephant Human Relations Aid (EHRA), die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT), die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) en die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ) het hande gevat om die mens-olifant-konflik in Namibië se noordweste te takel.

Hierdie inisiatief het die Olifantbestuursgroepe (EMG) van stapel gestuur, soos uiteengesit in die nuwe Nasionale Bewarings- en Olifantbestuursplan.

“Ons gebruik ‘n program EarthRanger wat ons in staat stel om geoheinings rondom ons gebiede van belangstelling op te stel. Elke keer as ‘n olifant met ’n halsband die heining verbysteek, stuur die program ‘n waarskuwing aan ons en wie in beheer is van die betrokke EMG,” verduidelik mnr. Kenneth Uiseb, hoof van natuurlewemonitering en -navorsing by die direktoraat wetenskaplike dienste van die MEFT.

Dit bemagtig die gemeenskap om hulself voor te berei vir olifantbesoeke en, indien nodig, die nodige maatreëls te implementeer.

“Ons toets tans pasgemaakte olifantwaarskuwingstelsels vir boere en bewaringsgebiede wat bewaring van olifante ondersteun, maar ‘n groot behoefte het aan mens-olifant-konflikondersteuning,” het me. Rachel Harris, besturende direkteur van EHRA, gesê.

In gemeenskaplike gebiede teiken olifante groentetuine, vernietig waterinfrastruktuur en soms ook heinings. Deur te weet waar die olifante is, voel mense veiliger en kan hulle hulself voorberei. Boere kan onmiddellik nadat hulle ’n waarskuwing ontvang het, hul span instuur om die heinings te herstel en te verhoed dat plaasdiere ontsnap.

Op die lang termyn sal die olifantbeweging die EMG’s ‘n beter begrip van olifantroetes gee. Op grond van dié inligting kan individuele boere konflikte versag, hul plaas beter bestuur of olifantvriendelike heinings of hekke oprig.

EHRA het twee van die agt halsbande, gefinansier deur Nicole en Brett Goldberg, en twee grondopsporingspanne om die olifante in Kamanjab en Fransfontein op te spoor, verskaf. Die spanne het ook die MEFT-wildveearts en halsbandspan gehelp.

“Die MEFT-halsbandspan het uitstekende werk gedoen en elke halsbandprosedure was vinnig en presies, altyd met die welsyn van die dier as ‘n prioriteit,” het sy gesê.

Namibië is een van die enigste Afrikalande met ‘n gesonde bevolking van vrylopende olifante buite nasionale parke. Soos hulle egter oor landskappe beweeg wat grootliks deur mense bewoon word, is dit voordelig vir alle betrokkenes om die beskikbare tegnologie te gebruik om konflikte te versag en ‘n respekvolle naasbestaan te bevorder. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!