‘Avis-houtstropery’ sal ondersoek word, sê CoW

Lorrievragte gras, hout glo reeds weggery
Die munisipale woordvoerder het gesê geen permit wat uitgereik word om gras te oes, laat ook die versameling van hout toe nie.
Elvira Hattingh
Die Windhoekse munisipaliteit (CoW) sê hy sal ondersoek instel nadat klagtes ontvang is oor gras, bome en hout wat onwettig in die omgewing van die Avisdam geoes word.

Dit volg nadat Republikein ’n klagte en foto’s van ’n bekommerde Avis-inwoner ontvang het, wat beweer persone wat ’n permit het om gras op die sypaadjies te oes, glo ook reeds lorrievragte gras en hout by Avisdam weggery het.

Andreas Voigt het foto’s verskaf van mense wat glo onlangs hout en gras met ’n “tienton-lorrie” vanaf Avis weggery het.

Hy sê hy het die Windhoekse stadspolisie al verskeie kere gevra om te kom ondersoek instel, maar vertel die polisie kan “dikwels nie die permit interpreteer nie”, of hulle weet nie wat om te doen nie of staan bloot en kyk toe hoe die voertuie volgelaai word.

“Dit is ooglopend hoe selfs die wild in die omgewing minder raak,” sê Voigt. “Windhoek se natuurlike hulpbronne word erg gestroop.”

Vera Freyer, die voorsitter van Greenspace Namibia wat in beheer is van die gebied rondom die Avisdam, stem saam dat die omgewing gestroop word.

“Die mense tref geen onderskeid tussen die bome wat hulle oes en of dit lewend of droog is nie,” het sy gesê.

OESPERMITTE VIR GRAS

“Geen permit wat uitgereik word om gras te oes, laat ook die versameling van hout toe nie,” het die munisipale woordvoerder, Lydia Amutenya, gesê.

Sy sê die munisipaliteit het nie “enige prominente klagtes” ontvang oor die spesifieke geval wat by die koerant aangemeld is nie, maar dat hulle nietemin die voorval gaan ondersoek.

“Die onwettige oes van hout is ’n probleem in verskeie gebiede rondom ons stad. Ons neem dit waar as openbare gebiede vir bosbeheer ondersoek word en oorblyfsels gevind word van bome wat afgesaag is,” het sy gesê.

MAG NIE BOME AFKAP

Sy het dit egter duidelik gestel dat permitte wat uitgereik word vir die versameling van hout, duidelik aandui dat slegs droë hout in Windhoek se rivierbeddings versamel mag word.

“Géén bome mag vir hout afgekap word nie. Daarbenewens mag mense slegs – op die meeste – ’n bakkievrag vol (droë) hout wegry,” het sy gesê.

Amutenya sê alhoewel droë hout ook beskikbaar is in openbare plekke soos Avis, bly die feit staan dat munisipale permitte mense slegs toelaat om droë hout vir eie gebruik te versamel.

“Die permitte word meestal uitgereik aan die inwoners van informele nedersettings wat die hout gebruik om vuur te maak en kos te kook.”

MELD DIT AAN

Amutenya sê die munisipaliteit het ’n gebrek aan mannekrag om aktief te monitor of inwoners hout en gras korrek – volgens hul permitte – versamel.

“Die stadsraad is daartoe verbind om die stad se biodiversiteit te beskerm en ’n gesonde ekostelsel te bevorder.

“In gevalle waar permithouers bome afkap, oortree hulle die voorwaardes van die permit. Inwoners word aangemoedig om sulke gevalle by ons kliëntedienssentrum aan te meld (061 290 3777 of 061 290 2594 of per e-pos [email protected]),” het sy gesê.

“Alle persone wat om permitte aansoek doen, word ingelig dat dit sleg vir dierevoer gebruik mag word. Baie van die mense is bejaardes wat droogtegeteisterde boere wil bystaan en gras soek om hul vee te kan voer.

“Ons staan dit toe, want dit kan moontlik ook die voorkoms van brande in en rondom Windhoek verminder,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!