Court battle over protected birds 1
Court battle over protected birds 1

Beskermde voëls vir eers veilig

Ministerie reageer op aantygings
N/a'ankusê sê nóg hulle nóg Rest glo dat die ministerie die nodige vaardigheid en kundigheid het om die voëls suksesvol te vervoer en te hervestig.
Ellanie Smit
Die hoërhof in Windhoek het verlede week beslis dat die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme nie die beskermde voëlspesies in die sorg van die Rare and Endangered Species Trust (Rest) mag verwyder terwyl ’n hofsaak oor die aangeleentheid hangend is nie.

Dít nadat die N/a’ankusê-stigting die hof Dinsdag om ’n dringende aansoek genader het om ’n bevel te kry om die ministerie te keer om verskeie bedreigde voëls en ’n eier te verwyder en te hervestig.

Rest het onlangs toegemaak en die voëls in N/a’ankusê se sorg gelaat.

Die ministerie het intussen in ʼn mediaverklaring gereageer en gesê omdat die saak voor die hof is, sal hulle nie meer daaroor bekendmaak nie, maar wil net die wanvoorstelling en verdraaiing van feite deur die ander twee partye regstel.

Volgens die woordvoerder van dié ministerie, mnr. Romeo Muyunda, het die ministerie besluit om die voëls na ʼn “veilige en aanvaarbare plek” te skuif ná behoorlik oorleg met Rest.

“Inteendeel, die besluit om die voëls te verwyder is geneem nadat Rest die voorstel gemaak het, omdat die instansie nie die voëls sonder ʼn permit wou aanhou nie,” het Muyunda gesê.

Die ministerie beweer ʼn aansoek deur Rest om ‘n permit vir die vervoer en aanhouding van die voëls op 29 Maart is afgekeur omdat die regte prosedure nie gevolg is nie.

Muyunda sê die ministerie het in ‘n brief op 18 Mei vir Rest gevra is dit reg te stel.

“Rest het egter toe gereageer deur te vra dat die voëls verwyder word. Intussen het die N/a’ankusê-stigting ook op 12 April vir ʼn permit vir dieselfde voëls aansoek gedoen.

“Volgens nasionale wet, kan slegs die persoon in wie se besit die spesie is, vir ʼn vervoerpermit aansoek doen om die diere te verskuif. Dit beteken dat N/a’ankusê geen reg het daartoe nie.

“Rakende die aantygings dat die ministerie verantwoordelik is vir die ietermagô Honeybun se dood: Die ministerie het alle nodige ondersteuning en permitte toegestaan wat sou toelaat dat die siek dier die nodige hulp buite die grense van Namibië ontvang.”

Volgens Muyunda het Rest dit ook so bevestig.

“Daarom is die ministerie geskok oor die mediaverklaring waarin ons vir die vrekte van die ietermagô blameer word.

Rest weerspreek homself en versprei kwaadwillige en lasterlike leuens. Die ministerie ontken dus al die aantygings,” het Muyunda gesê.

REST

Volgens N/a'ankusê bestaan die voëls wat die onderwerp van die dringende aansoek is uit ’n broeipaar Kaapse aasvoëls, twee roofarende, ’n bateleur-arend, een Afrika grootjagarend, een reuseooruil en een gevlekte ooruil.

Die Kaapse aasvoël is die mees bedreigde spesie in Namibië en dié wat tans by N/a’ankusê is, is die enigste broeipaar in aanhouding in die land, het die stigting gesê.

“Die paar is nou in hul broeiseisoen en die wyfie het haar tweede en laaste eier vir hierdie broeiseisoen gelê.”

“Die oorlewing van die eier, en uiteindelik die kuiken, is noodsaaklik vir die wêreldbewaring van dié spesie. Die eier is uiters broos en moet dus gehanteer en vervoer word deur individue met voldoende kennis en ondervinding om die bewaring daarvan te verseker,” het die hofstukke gesê.

N/a’ankusê het gesê nóg hulle nóg Rest glo dat die ministerie die nodige vaardigheid en kundigheid het om die voëls suksesvol te vervoer en te hervestig.

In ’n verklaring het die trust gesê hy het onlangs besluit om sy bedrywighede in Namibië te sluit weens die “voortdurende administratiewe onderdrukking en teistering deur die ministerie, aangesien die ministerie geweier het om die nodige permitte aan die trust te verskaf om sy bewaringspogings voort te kan sit”.

Volgens die stigting het hulle op 12 April om ’n permit aansoek gedoen om die voëls van Rest na die N/a’ankusê Wildlife Sanctuary te vervoer, maar die ministerie het nie op die aansoek gereageer of ’n finale besluit verskaf nie.

Hulle is toe op 14 Julie deur Rest ingelig dat die ministerie Dinsdag die voëls gaan haal en verwyder.

“Die lot van die voëls is in geheimhouding gehul. Die ministerie het versuim om te reageer op N/a’ankusê en Rest se redelike versoeke vir inligting oor hoe die diere vervoer sal word, waar en onder watter omstandighede hulle hervestig sal word – of hulle enigsins hervestig gaan word en nie bloot deur die ministerie doodgemaak sal word nie.”

“Dit is teenstrydig met die deursigtige optrede wat van ’n redelike administratiewe liggaam vereis word.”

In ’n brief aan die ministerie het Rest se stigter me. Maria Diekmann, gesê: “Dit is nie binne die bevoegdheid [van die ministerie] om aan my voor te skryf hoe ek my regte as die eienaar van my voëls moet uitoefen nie.”

Die aangeleentheid is tot 11 Augustus vir ’n statusverhoor by die SADC-hof uitgestel nadat ’n amptenaar van die staatsprokureur se kantoor - namens die ministerie - die aansoek teengestaan het.

Die amptenaar het uitstel versoek om die aansoek te oorweeg en beantwoordende beëdigde verklarings in te dien.

Die ministerie het tot Maandag 25 Julie om kennisgewing in te dien van hul voorneme om die saak teen te staan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer