Besoedeling in akwifer sal ‘rampspoed’ vir land wees
Altesaam 3,98 miljoen hektaar Namibiese grond en 60% van die artesiese kom by Stampriet word nou opgeneem deur eksplorasielisensies vir uraanontginning.
Die afgetrede geoloog dr. Roy Miller, wat meer as 40 jaar se ondervinding in die Namibiese mynbedryf het, het dié opmerking gemaak by die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se Grondwaterkonferensie wat vandeesweek in Windhoek gehou is.
Hy het gesê besoedeling van die Stampriet-akwifer deur ’n uraanontginningsproses bekend as in situ-uitloging sal “rampspoedig” vir die hele Namibië wees.
Hy het gesê sodra die water eers besoedel is, kan dit ’n algehele negatiewe persepsie van Namibië tot gevolg hê.
“Mense sal begin sê, ‘moenie Namibiese vleis eet nie, moenie die vrugte en die groente eet nie’. Hulle sal eenvoudig sê ‘moenie Namibiese water drink nie’.
“Die hele Namibië sal daaronder ly, nie net die boerderygemeenskappe nie. Stampriet se artesiese kom verskaf water aan boerderygemeenskappe, die hele gebied. So, dit kan die hele Namibië knou.”
Miller sê die voorgestelde eksplorasie deur in situ-uitloging in die Leonardville-omgewing kan die Stampriet-akwifer vernietig en moet onder geen omstandighede toegelaat word nie.
Hy sê sowat 80% van die totale verbruik van die Stampriet-akwifer is vir besproeiing, terwyl sowat 11% vir dorpsgebruik is.
“Dis verreweg die sterkste waterdraer in die land, met topgehalte drinkwater. Die meeste daarvan is A-gehalte drinkwater.”
Headspring Investments, ’n filiaal van Uranium One – wat deel vorm van die Russiese kernkragmaatskappy Rosatom, doen tans eksplorasieboorwerk op die plaas Tripoli, 15 kilometer wes van Leonardville.
PROBLEMATIESE METODE
Headspring Investments het sedert 2011 ’n eksklusiewe prospekteringslisensie vir uraan in ’n gebied wat 7 000 vierkante kilometer beslaan. Die maatskappy oorweeg glo om US$500 miljoen te belê sodra hy goedkeuring vir sy mynbouprojek kry.
Die maatskappy het sedert 2019 reeds 600 boorgate en 29 hidrologiese boorgate geboor.
Volgens Miller is die grondwatervlak in die akwifer so hoog dat die uraan nie deur konvensionele oopgroef- of ondergrondse mynprosesse ontgin kan word nie, maar slegs deur die in situ-mynproses.
Hierdie metode is ’n hoofbron van kommer. In situ-mynbou behels die boor van ’n patroonboorgat in die ertsliggaam.
In situ-uitloging behels die boor van ’n sentrale boorgat, wat met verloop van tyd miljoene liters water – gekombineer met giftige sure – teen uiters hoë druk in die grond pomp om uraanafsetsels op te los en dan die uraandraende oplossing via omliggende boorgate te onttrek. Die oplossing moet teen ’n vinniger tempo onttrek word as die spoed waarmee die chemiese oplossing (hoofsaaklik swaelsuur) in die grond ingepomp word.
“In situ-uitloging stel die radioaktiewe afval van die uraan in die akwifer se water vry. Dit los swaar metale in die akwifer-sandsteen op, stel dit in water vry en voeg sulfaat by die water,” het Miller gesê.
Volgens hom dek al die eksplorasielisensies en aansoek om eksplorasielisensies vir uraanmynbou ’n gebied wat 60 tot 100 km breed en 400 km lank is.
“Die lisensies strek tot by die Botswana-grens.”
KOMPLIKASIES
By ’n vorige geleentheid het hy gesê: “Dis ’n ondergrondse proses, so daar is geen manier om vir seker te weet wat sal gebeur en watter vorm en omvang besoedeling kan aanneem nie.”
Miller het uitgewys dat probleme ook kan voorkom, insluitend dat boorgatomhulsels, pompe en pyplyne kan breek, en dat lekkasie na ander akwifers kan voorkom.
Hy het beklemtoon die Stampriet-akwifer is die grootste artesiese kom in Namibië wat ander volhoubare nywerhede ondersteun en moet dus vir huidige en toekomstige geslagte beskerm word. Daarom, het hy gesê, moet uraanontginning by enige drinkwaterbron voorkom word.
“Die beste manier om dit te voorkom, is om dit te stop voordat dit selfs begin.”
Die ministerie van landbou, water en grondhervorming verwerk tans nie prospekteerders se aansoeke vir boorpermitte nie en ondersoek voorgestelde mynaktiwiteite in drinkwaterbronne, wat tot besoedeling kan lei.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie