Concervancies
Concervancies

Bewaringsgebiede verdien N$39 m. in 2022

Meer as N$144 miljoen oor vyf jaar gegenereer
Shifeta het gesê hierdie gebiede kan natuurlike hulpbronne gebruik om fondse te genereer om gemeenskappe se lewensbestaan te verbeter en kwessies wat verband hou met mens-wild-konflik te hanteer.
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit - Inkomste wat bewaringsgebiede die afgelope vyf jaar gegenereer het, het meer as N$143,7 miljoen beloop – verlede jaar alleen meer as N$39,4 miljoen.

Só het Pohamba Shifeta, die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, gesê in reaksie op vrae wat in die Nasionale Vergadering geopper is oor bewaringsgebiede sowel as toerisme- en trofeejagkonsessies.

Daar is tans 86 bewaringsgebiede en twee verenigings wat geregistreer en in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die uitgawes van die gebiede oor die vyfjaartydperk het meer as N$96,3 miljoen beloop terwyl die voordele N$40 miljoen was.

Shifeta het gesê hierdie gebiede word regte gegun om natuurlike hulpbronne te gebruik om fondse te genereer om gemeenskappe se lewensbestaan te verbeter en ook om kwessies wat verband hou met mens-wild-konflik te hanteer.

Hy het gesê wat die benutting van hulpbronne binne die grense van die bewaringsgebiede betref, gaan die opbrengs direk na die gebiede se koffers.

“Die regering baat glad nie finansieel daarby nie.”

Hy het opgemerk nie alle bewaringsgebiede is op dieselfde vlak nie. “Party vaar goed, en sommige sukkel.”

Die ministerie staan te alle tye bewaringsgebiede by om bestuur en hul inkomste te verbeter, het hy bygevoeg.

BELEIDE EN BELEGGINGS

Shifeta het verder verduidelik dat die ministerie, deur die nasionale beleid oor toerisme en wildbewaring op staatsgrond, konsessies aan bewaringsgebiede en ook private wettige grondentiteite toeken.

Ingevolge die beleid en die wet kan die minister direk konsessies toeken aan die gemeenskappe wat binne of in naburige parke woon.

Hy het gesê konsessies wat aan private entiteite toegeken word, word deur ’n mededingende tenderproses toegeken.

“Met erkenning dat gemeenskappe in die meeste gevalle geen fondse of vermoë het om hul konsessies suksesvol te bedryf nie, help die ministerie gemeenskappe met die verkryging van beleggers deur middel van ’n mededingende tenderproses.”

Shifeta het beklemtoon dat konsessies nie in die Staatskoerant gepubliseer word nie, aangesien dit nie ’n wetlike vereiste is nie, maar het bygevoeg enige belangstellendes kan inligting oor konsessies by die ministerie kry.

Hy het gesê die meeste konsessies wat deur gemeenskappe besit word, word deur private beleggers geïmplementeer deur ’n konsessie-operateurkontrak.

TOESIG

Die ministerie doen jaarlikse oudits van bewaringsgebiede.

Shifeta het gesê bewaringsgebiede se nakoming aan hul grondwette en planne vir die verdeling van voordele word deurgaans gemonitor.

“Saam met die bewaringsgebiede doen ons jaarlikse wildtellings. Die gebiede is ook toegerus met ’n stelsel om wild te monitor.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!