Boeing vol olifante kom in VAE aan

Ministerie kritiseer sy kritici in nuusverklaring
Die 22 olifante wat die Gobabis-boer Gerrie Odendaal Vrydag na die Verenigde Arabiese Emirate uitgevoer het, se veilige aankoms is gister bevestig.
Ronelle Rademeyer
Die 22 olifante wat Vrydag onder groot geheimhouding by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe in ’n Boeing 747-281B(SF) van die Moldawiese vragvlugredery, Fly Pro, gelaai is, het Saterdag in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) aangekom.

Joernaliste van buitelandse media-instellings was Vrydag by die lughawe in die hoop om ’n glimps te kry van hoe die olifante gelaai word.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het tot gister ’n digte sluier van geheimhouding oor die uitvoere getrek – iets waarvoor hy skerp deur buitelandse bewaringsinstellings gekritiseer is.

Dié trop van 22 olifante uit die Kamanjab-boerderygebied is vroeër deur die ministerie aan die Gobabis-boer, mnr. Gerrie Odendaal, verkoop.

Odendaal wou verlede week net soos die ministerie nie ’n woord oor die olifante rep nie. “Ek sal met jou praat, maar eers later. Bel my volgende week,” was sy woorde.

Die ministerie se woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, het gistermiddag in ’n verklaring gesê dié uitvoer het wettig en in pas met

die vereistes van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (Cites) geskied.

Volgens hom vaar die olifante goed ná die lang vlug, “buiten vir een koei wat swak voorkom.” Hy het nie hierop uitgebrei nie, net soos die finale bestemming van die olifante ook verswyg is.

Hy het benadruk die ministerie is nie die uitvoerder nie, maar die bieërs is.

“Om in te gryp in die toename van gevalle van mens-dier-konflik, veral dié waarby olifante betrokke is, het die ministerie 37 olifante opgeveil.

“Ons wil dit duidelik maak al die olifante wat opgeveil is, is aan Namibiese bieërs verkoop en die uitvoer daarvan was nie die ministerie se besluit nie,” sê hy.

“Met die uitvoer van die 22 olifante is geen internasionale of binnelandse wette deur óf die invoerland óf die uitvoerland oortree nie. Alle relevante permitte, insluitend Cites-permitte, is verkry in ooreenstemming met artikel III van die konvensie,” lui sy verklaring.

Muyunda sê die meeste van die kritici besef nie bewaring in die land is ‘n suksesverhaal was nie omdat mense met wilde diere saamleef nie.

“Hierdie naasbestaan word egter tans bedreig deur die steeds toenemende gevalle van mens-dier-konflik. Ons kan ons nie voorstel wat sal gebeur as mense nie meer hul leefruimte met wilde diere wil deel nie.

“Pleks van ons veroordeel, moet diereregtegroepe – wat in elk geval in lande sonder wilde diere woon – dankbaar wees teenoor lande soos Namibië wat praktiese besluite neem om bewaring te bevorder,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!