Dapper stappers takel mens-olifant-konflik

150 kilometer deur die Kunene
'n Groep stappers, asook 'n paar verteenwoordigers van die Rössing Foundation, het tussen 5 en 9 Julie die Kunene Elephant Walk deur die afgeleë noordwestelike deel van die land afgelê.
’n Groep ywerige stappers het vandeesmaand ’n staptog van 150 kilometer saam met ‘n span gemeenskapswildbewaarders van ses bewaringsgebiede in die Kunenestreek aangepak om geld vir Namibië se woestynaangepaste olifante en die versagting van mens-olifant-konflik in te samel.

Dié groep, asook ’n paar verteenwoordigers van die Rössing Foundation, het tussen 5 en 9 Julie die Kunene Elephant Walk deur die afgeleë noordwestelike deel van die land afgelê.

In 2021 het mnr. John Kasaona, die direkteur van die nieregeringsorganisasie Integrated Rural Development and Nature Conservation (IRDNC), en sy span gemeenskapswildbewaarders die staptog afgelê om die roete uit te stippel.

Vanjaar het die nieregeringsorganisasie Tourism Supporting Conservation Trust (Tosco) gehelp om die staptog sowel as die geldinsamelingsveldtog – wat aan die gang is tot die insamelingsdoelwit bereik word – te organiseer. Die geld wat ingesamel word sal aangewend word vir verskeie projekte wat landelike gemeenskappe sal bemagtig om in vrede met die olifante saam te leef in afgeleë bewaringsgebiede soos Ongongo, Otjiu-Wes, Ombuijokanguindi, Ozondundu, Okangundumba en Omatendeka.

Volgens een van die deelnemers was die staptog ‘n “ongelooflike en verhelderende ervaring”, en “meer van ‘n gemeenskapstaptog as ‘n olifantstaptog, aangesien dit die samesyn soos om ons stories en tyd om die vuur te deel wat dit spesiaal gemaak het”.

Die hoofman van die gebied en die voorsitter van die bewaringsgebied het by die groep aangesluit vir ete en kon ’n produktiewe gesprek voer oor die uitdagings en behoeftes van die plaaslike gemeenskap. Die span helpers en kombuispersoneel het hulle goed van hul taak gekwyt om almal te voed en deurentyd seker te maak almal se waterbottels is vol.

Luidens ’n mediaverklaring wat deur Tosco uitgereik is, het Kasaona vanaf dag 1 in sy unieke leierskapstyl die pas en die toon vir die groep aangegee.

Op die pad kon stappers die skoonheid van die omgewing van hierdie minder bekende deel van Namibië waardeer, en meer oor die plaaslike fauna en flora by die wildbewaarders leer.

Die roete het die groep deur ‘n Himba-dorpie geneem en hulle kon tyd saam met die gemeenskap deurgebring. Op dag 4 van die staptog het die groep effens van die roete afgedwaal om grotte en watergate in die gebied te verken. Een van die deelnemers het Namibië beskryf as een van die mees fassinerende en diverse lande in Afrika met unieke landskappe en vrylopende wilde diere.

Die fokus was glo nie om by die dag se bestemming uit te kom nie en ook nie om olifante te vind nie, maar om die plaaslike gemeenskappe langs die pad te leer ken en hul uitdagings te verstaan.

Deelnemers het onder meer geleer dat die grootste uitdaging in die gebied van die Himba-dorpie is om gewasse vir voedselsekerheid te verbou, maar dié oeste loop dikwels onder die olifante deur. Sonpanele en elektriese heinings sal egter kan verseker dat gemeenskappe hul oeste kan bewaar.

“Dag 5 is afgesluit met ‘n lang bespreking oor hoe om die geldinsamelingsveldtog voort te sit en hoe om hierdie ongelooflike ervaring in so ‘n ontoeganklike gebied vir ander oop te stel. Beloftes is gemaak, tesame met beloftes om volgende jaar terug te wees,” lui die verklaring.

Die betrokke organisasies het ’n beroep gedoen op enigiemand wat van die projek te hore kom om tot dié doel by te dra. Volg dié skakels om ‘n skenking op een van die geldinsamelingsplatforms te maak:

Internasionale skenkers: https://www.gofundme.com/f/namibia-mitigating-humanelephant-conflicts

Namibiese skenkers: https://www.today.com.na/give/kunene-elephant-walk-kew

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer