‘Die dier kom altyd eerste’
Wildboerdery noodsaaklik vir natuurbewaring
Wildlife Vets help wildboere om hul diere vir veiling voor te berei
Dit is 06:00 in Suider-Afrika, en op die plaas Klawerberg in Namibië is almal reeds in rep en roer.
Medisyne en vitamiene word gesorteer, pyle vir die verdowingsgeweer word voorberei en die helikopter word gereed gemaak – vir Wildlife Vets Namibia is dit net ’n doodgewone oggend.
Hulle taak is om verskeie wildsbokspesies uit die helikopter op dié kommersiële plaas uit te kies en te verdoof, dan te meet, in te ent, van identifikasieplaatjies te voorsien en somtyds in nuwe kampe te hervestig.
Die veearts dr. Ulf Tubbesing en Mariska Bijsterbosch van Wildlife Vets Namibia is verantwoordelik vir mediese vrae oor wilde diere in Namibië: van behandeling en operasies, tot inentings, vervoer, uitvoere en hervestigings wat dikwels oor landsgrense plaasvind.
Op Klawerberg ondersteun die organisasie tans die eienaar en Suid-Afrikaanse wildboer, Charl du Toit, met die voorbereiding van uitgesoekte bulle vir ’n veiling wat in ’n paar weke gehou word.
Du Toit, wat Silent Valley Stud Game Breeders in Suid-Afrika besit, en sy bestuurder op Klawerberg, Willie Pienaar, wil onder andere by dié veiling vier swartwitpense, drie elande, drie koedoes, vier rooibokke, twee gemsbokke, twee witstert-, twee gestreepte en twee goue wildebeeste opveil.
Veilings soos hierdie is ’n belangrike deel van kommersiële wildboerdery in Suider-Afrika en maak winsgeoriënteerde wildversorging en teling moontlik, terwyl inheemse wildspesies bewaar word.
Die verkoop van die diere verg intensiewe voorbereiding, waar ’n wildveearts betrokke moet wees.
Die proses om die diere met ’n verdowingspyl te skiet, vereis die grootste omsigtigheid en kwalifikasies. “Die verdowingsmiddel wat ons gebruik, is ongelooflik sterk. Terwyl ons ’n paar milligram vir ’n groot bok moet gebruik, kan selfs die kleinste oorblyfsels lewensgevaarlik vir mense wees as hulle direk daarmee in aanraking kom,” verduidelik Tubbesing.
Gevolglik sal selfs ’n opgeleide wildveearts bykomende permitte benodig om die narkose te hanteer. Die spesifieke toediening moet vooraf deeglik oorweeg word: elke spesie benodig verskillende kombinasies van stowwe en verskillende dosisse.
“Dit hang dus af van die land, die streek, die plaas en soms selfs die kamp op die plaas,” het hy gesê.
Klawerberg is ’n kommersiële plaas wat ongeveer 9 000 hektaar beslaan en sowat ’n uur suidoos van Windhoek geleë is.
STRES VERMINDER
Voor die somerhitte van Afrika intree, ry die wildveeartse en die boere die veld in.
Die vlieënier Raymund Simon van Simon Wildlife Services staan hulle by. Hy is ’n ervare helikoptervlieënier en soek saam met Tubbesing vir die beste wildsbokbulle uit die lug. Wanneer hulle dié bokke identifiseer, verdoof Tubbesing die diere en stuur die grondspan na die regte ligging.
“Ons het ’n ervare vlieënier nodig, omdat die tipe werk baie gevaarlik is. Hy moet uiters laag vlieg sodat die veearts naby genoeg vir die verdowingskoot kan kom. Hy moet gedurig vir kraglyne en bome uitswaai,” het Bijsterbosch gesê.
Die vlieënier stuur die dier stadig in die rigting van die grondspan.
“Hoe groter die afstand tussen die dier en die helikopter is, hoe minder stres ervaar die dier. Adrenalien werk soos ’n teenmiddel vir die verdowing, wat beteken as die adrenalien bly vloei kan die dier aanhou hardloop wat dan tot moontlike oorverhitting kan lei.”
Die noodsaaklikheid om die korrekte hoeveelheid van die verdowingsmiddel toe te dien, word ook hier duidelik. “As die dosering te swak is, loop die dier nog baie ver voordat dit uiteindelik grond toe val. Dit kan tot oorverhitting en nierversaking lei en die dood van die dier beteken. Dit is hoekom ons liewers bietjie sterker verdowing toedien en altyd die teenmiddel byderhand het as wat ons die dier weens hitte-uitputting verloor,” het Bijsterbosch gesê.
Die korrekte dosering het ook ’n praktiese doel: “Die helikoptervlieënier word per uur betaal, sodoende spaar die boer geld,” het Tubbesing laggend gesê.
Sodra die dier op die grond is, is die grondspan dadelik by die dier en bedek sy oë.
“Die dier is wel verdoof, maar dikwels reageer hulle nog op eksterne faktore,” het Bijsterbosch, wat vir die werk op die grond verantwoordelik is, verduidelik.
Die dier moet op sy maag lê om asemhaling te vergemaklik, dan word minerale, vitamiene, die nodige inentings en ontwurmingsmiddels toegedien.
Die dier word gemeet om die lengte van die horings as ’n verkoopskenmerk te verseker.
Elke dier kry ook ’n oorplaatjie en mikroskyfie vir identifikasiedoeleindes en binne ’n paar minute word die teenmiddel toegedien en die dier kan weer opstaan.
NATUURBEWARING
Pienaar sê die boere is veral op die uitkyk vir diere wat die beste genetika vir ’n uitstekende teelbul toon.
Dit hang aan die een kant af van ’n sterk liggaamsbou en die gewenste pelskleur, en aan die ander kant van die grootte van die horings.
Die wildbedryf genereer ’n geweldige inkomste, maar baie geld moet ook daarin belê word.
Altesaam 600 diere word einde April opgeveil, waarvan 300 bulle van Klawerberg afkomstig is.
Pienaar skat dit is een van die grootste wildveilings tot nou toe in Namibië. Dit is ’n katalogusveiling waar die diere aanlyn opgeveil word via die foto’s wat deur Wildlife Vets geneem is terwyl die diere verdoof was.
“Dit is baie minder stres vir die diere aangesien hulle net een keer vir die keuring en een keer vir die vervoer verdoof sal word,” het Pienaar gesê.
Die meeste boere bie op die diere as nuwe teelbulle vir hul kuddes, talle ook vir jagtoerisme. Baie Europeërs vind dit vreemd dat Afrika-wild soos beeste geteel, opgeveil en verkoop word. Inteendeel, baie mense weet nie dat kommersiële wildboerdery ook nodig is vir wildbewaring nie. Slegs as plaaslike mense van hul natuurlike hulpbronne kan lewe, is daar belangstelling om hulle te beskerm.
“As jy die natuur oor ’n lang termyn wil beskerm, moet jy mense toelaat om ’n inkomste daaruit te kan maak,” het Bijsterbosch gesê.
“As wildboere nie wins uit wild kan maak nie, sal hierdie plase oornag in beesplase omskep word. Die bedryf stel die boer in staat om die diere te versorg.”
Tubbesing dring ook aan op pragmatisme in natuurbewaring.
“Vir my kom die dier altyd eerste. Maar die mense hier moet hul brood verdien. Daar moet ’n simbiose tussen mens en dier wees.”
Namibiese wildboere is ook in ’n ander opsig verseker van hul werk: deur die beste bulle te verkoop en te koop, wil hulle die genetika in hul kuddes optimaliseer.
Terwyl Du Toit en Pienaar passievol is oor hul kuddes, die beste genetika, sterk bulle en lang horings, is daar ongetwyfeld wildboere in Suider-Afrika wat net met wins gemoeid is.
Verskeie maatreëls wat sommige boere tref om hul wildhulpbronne te beskerm, moet ook krities beskou word: roofdiere soos luiperds, jagluiperds en jakkalse word deur baie boere uitgeroei.
Tubbesing en Bijsterbosch, aan die ander kant, gee om vir die welstand van die diere wat aan hulle toevertrou word.
Vir Tubbesing moet alles anders – wins, burokrasie, bemarking – terugstaan vir hul passievolle verbintenis tot Namibië se natuurlewe.
Wanneer hy en Simon die bloedrooi Afrika-sonsondergang invlieg ná ’n lang, harde dag se werk in ’n helikopter, met ’n trop wildebeeste wat onder hulle galop, kan ’n mens seker wees: natuurbewaring in Namibië word die beste deur Namibiërs self gedoen.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie