Dragons Breath se geheime ontrafel
Diepte nou bekend danksy tegnologie
Vir die eerste keer is nuwerwetse tegnologie gebruik om 'n profiel, of 'n driedimensionele kaart, van die wêreld se grootste ondergrondse meer op te trek.
Namibië se sogenaamde Dragon’s Breath Cave maak opnuut opslae in internasionale nuus nadat navorsers, met behulp van tegnologie, eindelik kon vasstel dat die grot sowat 254 m diep is.
2ceansvibe.com, Head Topics en IFL Science het die afgelope week berig dat wetenskaplikes ontdek het dat die ondergrondse meer selfs dieper is as wat verwag is.
Tot dusver was dit onbekend hoe diep die ondergrondse meer is, wat op die plaas Harasib sowat 30 km suidoos van Tsumeb, of 46 km noordwes van Grootfontein geleë is.
Die diepste wat duikers tot dusver daarin kon duik, was 132 m. Boonop is die ondergrondse meer enorm, afgeleë en moeilik bereikbaar, wat ’n verdere uitdaging vir die menslike verkenning daarvan bied.
In 2019 het ’n span ingenieurs tesame met ’n paar tegniese duikers van Stone Aerospace die grot met behulp van ’n mini-duikboot genaamd Sunfish verken. Die “duikboot” kon dieper as ooit in Dragon’s Breath Cave duik en kon daarin slaag om dié besonderse ondergrondse meer se grootste geheime te ontrafel.
Stone Aerospace is ’n Texas-gebaseerde maatskappy wat tegnologie ontwikkel om onder meer ondergrondse waterstelsels en die ruimte te verken. Die maatskappy het ook reeds die Guinas-meer en die Harasib-grotte in Namibië verken.
3D-KAART
Vir die eerste keer is nuwerwetse tegnologie gebruik om ’n profiel, of ’n driedimensionele kaart, van die ondergrondse meer op te trek.
Die unieke lewe in die ondergrondse meer is ook bestudeer – wat bykans nooit deur sonlig bereik word nie – behalwe vir sekere dele naby aan die nou ingang.
Mense het die meer vir die eerste keer in die 1980’s begin verken en tot dusver is gereken dit behoort sowat 150 m diep te wees.
Tydens Stone Aerospace se verkenning van die ondergrondse meer, is vasgestel dat die watervlak op ’n diepte van 59 m begin.
In ’n kort dokumentêr oor hul verkenning van die Dragon’s Breath Cave, wys die navorsers hoe hulle deur nou skeure van net 50 cm wyd en gange met die Sunfish-robot moes beweeg om die water te kon bereik.
Die dokumentêr is aanlyn op YouTube beskikbaar.
Daar kon ook vasgestel word dat die water sowat 200 m diep is. Dit maak dit die wêreld se heel grootste ondergrondse meer.
Die mini-duikboot het die donker dieptes van die ondergrondse meer met behulp van lasers en ’n hoëresolusie-sonar gekarteer. Daar is ook ’n groot, nuwe grotkamer naby die ingang ontdek, terwyl die wetenskaplikes kon vasstel dat die grot soos ’n puntskoen gevorm is, wat effens afwaarts wys.
DRAAKASEM?
In die dokumentêr sê die navorsers dit kon nie enige bewyse vind dat die ondergrondse meer verbintenisse met ander mere of waterbronne het nie, wat dit nog meer uniek maak.
Stone Aerospace verduidelik die rede hoekom die grot klaarblyklik soms “asemhaal” en warm, vogtige lug uitspuug, is juis omdat die ondergrondse meer so groot is. Dit het niks met ’n asemhalende draak te doen nie, maar eerder met die grootte van die ondergrondse meer, wat reageer op die weer buite die grot.
“As ’n sterk wind verbywaai en die lugdruk by die grot se ingang verminder, forseer die boonste grotkamer warm, vogtige lug uit.
“As die teenoorgestelde gebeur, word droë lug terug in die grot ingesuig. Dit blyk dat lug verskeie kere per uur sirkuleer.
“Die uiteinde is dat die boonste deel van die grot, vanaf die ingang tot die eerste vertikale val, koel en droog is. Daarna is dit soos ’n sauna van sowat 34 grade Celsius,” is verduidelik.
Dragon’s Breath Cave is net een van Namibië se geraamde 124 grotstelsels, waarvan die meeste in die noorde van die land gevind kan word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie