EHRA, ministerie takel mens-olifant-konflik

Fokus op vroeë waarskuwingstelsel
EHRA en die omgewingsministerie het 'n beduidende stap geneem in hul bewaringspogings deur agt olifante met moderne satelliethalsbande toe te rus.
Tanja Bause
Oor ’n tydperk van drie jaar het Elephant Human Relations Aid (EHRA) omvangryke veldwerk gedoen, wat gelei het tot die suksesvolle identifisering van die troppe woestynaangepaste olifante en volwasse bulle wat in die Groter Omatjete-olifantbestuursgebied voorkom.

As gevolg van hierdie pogings is al die troppe en vier volwasse bulle nou met satelliethalsbande toegerus.

Namibië se noordwestelike streek staar ’n reuseuitdaging in die gesig met mens-olifant-konflik wat die veiligheid en welstand van beide mense en vrylopende olifante bedreig. Om die probleem aan te pak en ’n volhoubare oplossings te vind, het EHRA en die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT) ’n beduidende stap geneem in hul bewaringspogings deur agt olifante met moderne satelliethalsbande toe te rus. Met die implementering van ’n vroeë olifantwaarskuwingstelsel en uitgebreide langtermyn-olifantbewegingstudies, is EHRA en MEFT besig met baanbrekerswerk wat daarop gemik is om samesyn en harmonie in die streek te bevorder.

Rachel Harris, die besturende direkteur van EHRA, sê hulle het die olifante noukeurig gemonitor.

“Ons het foto’s van al die volwasse olifante geneem en waardevolle data van die trop ingesamel, soos hulle ouderdom en geslag. Ons het kameravalle gebruik om omvattende inligting oor die olifante te versamel. Ons het ook toenemende interaksie tussen die bekende woestynaangepaste Ugab-Wes-olifante en die inwonende olifante in die ooste opgemerk.”

As deel van die regering se nasionale olifantbewarings- en bestuursplan, is of sal bestuursgroepe op die been gebring word in gebiede waar olifante voorkom.

Dié groepe fasiliteer plaaslike besluitneming en pasgemaakte oplossings om olifantkonflikte te takel wat op die spesifieke behoeftes van elke gemeenskap gebaseer is.

Met die klem op die belangrikheid van tegnologie, is die implementering van die Elephant Early Warning System geprioritiseer. In dié stelsel speel EHRA se gemeenskaplike olifantbewaarders ’n beduidende rol om gemeenskapslede oor olifantbewegings in te lig en om hulle aan beskermende maatreëls te herinner.

Die nuutgestigte Groter Omatjete Olifantbestuurseenheid (GO EMU), is ’n grensverskuiwende konsep wat beduidende vordering in bewaring gemaak het deur aksieplanne te implementeer waaroor die komitee eenparig ooreengekom het.

Volgens Latoya Huses, die voorsitter van CO EMU, het die belanghebbendes die uitdagings wat die gemeenskappe in die gesig staar wanneer hulle met olifante saamleef, noukeurig geïdentifiseer en pasgemaakte strategieë om konflik te versag vir elke individuele plaas of dorp uitgewerk.

“Een van die aksieplanne was om alle inwonende troppe met satelliethalsbande toe te rus en die vroeë waarskuwingstelsel ten volle te implementeer om die plaaslike gemeenskappe te bemagtig om mens-olifant-konflik veilig te kan bestuur. Hierdie metodes is ontwerp om ’n volhoubare en harmonieuse verhouding tussen olifante en die plaaslike gemeenskappe te vestig.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer