Fietstrap deur Kunene met ’n doel

Tanja Bause
’n Groep mans en vroue klim binnekort weer op hul bergfietse en pak sowat 50 kilometer per dag in die Palmwag bewaringsgebied aan om geld vir twee organisasie in te samel.

Die RMB & Wilderness Ride for Rhinos bergfietstoer samel reeds vir die agtste keer geld in vir Save the Rhino Trust (SRT) en die Children in the Wilderness stigtings. Vanjaar se toer vind vanaf 24 tot 28 Mei en van 29 Mei tot 2 Junie plaas.

“Die 2023-toer beloof om die mees opwindende nóg te wees. Daar is twee meerdaagse ritte onmiddellik ná mekaar, met slegs 18 plekke per resies beskikbaar.

“Die geleentheid gee ryers die unieke geleentheid om deur buitengewone landskappe te ry, wat ’n belangrike renosterbewaringsgebied huisves,” lui die verklaring.

Die jaarlikse vierdaagse toer, wat beskou word as ’n avontuurlike natuurervaring eerder as ’n wedloop, stel deelnemers in staat om een van die aanskoulikste gebiede in noordwestelike Namibië te geniet, vanaf die beginpunt by Wêreldsend, deur die Palmwag-konsessie in Damaraland.

Fietsryers ry daagliks ongeveer 40 tot 50 km deur droë rivierlope en rotsagtige koppies, met skouspelagtige uitsigte oor uiteenlopende terrein.

Die toer word aanbeveel vir bergfietsryers met matige tot gevorderde tegniese vaardighede en fiksheidsvlakke.

Registrasie word hanteer op grond van watter ryers eerste hul plek bespreek, wat gedoen kan word deur na [email protected] uit te reik. Meer besonderhede ook by venture.com.na/ride-for-rhinos.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer