SWH-Sandwich-Harbour
SWH-Sandwich-Harbour

Geen eksklusiewe regte vir Sandvishawe

Geen Namibiër uitgesluit
Die toekenning van die Sandvishawe as 'n konsessie sal geensins toegang tot die gebied beïnvloed nie.
Ellanie Smit
“Geen Namibiër sal uitgesluit word om Sandvishawe binne te gaan nie, dus sal geen eksklusiewe regte aan enige maatskappy gegee word om toere in Sandvishawe te onderneem nie. Die toekenning van die Sandvishawe as 'n konsessie sal geensins toegang tot die gebied beïnvloed nie.”

Dit het die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, gesê in reaksie op vrae oor die kwessie van konsessies in beskermde gebiede wat tydens die Nasionale Vergadering gevra is.

Shifeta het bygevoeg dat geen enkele operateur toegelaat sal word om die permitgelde te bepaal nie en het verseker dat dit die verantwoordelikheid van die ministerie is.

Volgens hom sal alle huidige toeroperateurs voortgaan om soos in die verlede toegang tot die Sandvishawe-area te hê, mits hulle die verwante koste betaal. Hy het ook gesê die ministerie sal verseker dat fooie wat van besoekers gehef word, steeds laer in vergelyking met buurlande en ander lande oraloor Afrika sal bly.

TOEGANGSFOOIE

Shifeta het daarop gewys dat die Etosha- en Namib Naukluft Nasionale Parke die top twee toeristebestemmings in Namibië is en dat die huidige toegangsfooi N$100 per dag vir toeriste uit die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingstreek (SADC) en N$150 per dag vir internasionale toeriste is.

Volgens die minister is sommige parke soortgelyk aan Etosha en die Namib Naukluft-park in Zambië se toegangsfooie N$400 vir SADC-toeriste en N$500 vir internasionale toeriste. In Botswana is toegangsfooie N$283 vir SADC- en N$373 vir internasionale toeriste, terwyl dit in Suid-Afrika N$257 vir toeriste uit SADC en N$535 vir internasionale toeriste is.

“Dit is duidelik dat kommer dat Namibië 'n duur toeristebestemming gaan word, ongegrond is. Die land sal die goedkoopste toeristebestemming in Afrika bly,” het Shifeta gesê.

‘KONSESSIE BENADEEL NIE SME’

Shifeta het verder beklemtoon dat geen konsessie wat in Namibië toegeken is, enige klein- en mediumgrootte ondernemings (KMO's) benadeel het nie. In werklikheid trek voorheen benadeelde Namibiërs wat KMO's besit, glo voordeel uit die toekenningsproses van die konsessie.

Hy het gesê dat die toerismeministerie, net soos ander regeringsentiteite, daaraan gewerk het om die toerismebedryf 'n nuwe baadjie te gee om die samestelling van die bevolking te weerspieël.

“Die ministerie sal nooit konsessies toeken wat ’n nadelige uitwerking op die Namibiese toeroperateurs sal hê nie,” het Shifeta gesê.

Volgens hom is hul doel om dienslewering te verbeter en Namibië een van die beste en bekostigbare toerismebestemmings te maak.

GEMEENSKAPPE

Shifeta het verduidelik dat die ministerie konsessies direk toeken aan gemeenskappe wat binne of aangrensend van die beskermde gebiede woon, sonder om deur die tenderproses te gaan.

Hy het gesê in al die beskermde gebiede met konsessies, naamlik Etosha, Namib Naukluft, Skedelkus, Dorob en Bwabwata Nasionale Parke, is daar konsessies wat direk aan gemeenskappe toegeken word.

“Gemeenskappe aan wie konsessies direk toegeken word, word egter steeds deur die ministerie bygestaan om beleggers deur middel van ’n tenderproses aan te stel.”

Shifeta het gesê dat alle konsessies deur die tenderproses gaan om operasioneel te wees, naamlik om óf 'n belegger vir 'n sekere gemeenskap te bekom óf om 'n operateur aan te stel.

Hy het gesê in al die onlangse konsessies wat toegeken is, kry gemeenskappe 75% van die konsessiefooie en die regering net 25%.

“Die minister word slegs deur die wet gemagtig om konsessies direk aan plaaslike gemeenskappe toe te ken sonder om die tenderproses te volg.

“Selfs al word 'n konsessie direk aan die plaaslike gemeenskap toegeken, sal 'n belegger steeds nodig wees aangesien plaaslike gemeenskappe nie hulpbronne het om dit te implementeer nie. Die beleggers sal steeds deur die tenderproses aangestel word,” het Shifeta verduidelik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!