Geen hulp vir koedoe met draadstrik

Tanja Bause
’n Koedoebul met ’n draadstrik om sy nek is Sondag omstreeks 04:00 in ’n erf in Calvinstraat in Academia in die hoofstad doodgeskiet.

Die buurtwag het mnr. Jacobus Henn om hulp genader.

“Ek help gereeld mense met diere en slange. Ek het soontoe gery en gedink dit is ’n hondsdol koedoe. Hy het oor die muur gespring en in ’n erf gestaan. Die koedoe het ’n draadstrik om sy nek gehad. Dit het aan die onderkant van sy nek al taamlik ingesny en bo by die horings vasgehaak.

“Gewoonlik word die strikke so gestel dat die dier sy hele kop indruk en die draad agter die horings vassit, maar dié bul het die hele strik afgebreek voor dit oor sy horings was.”

Henn het onmiddellik die polisie gebel wat baie vinnig op die toneel was.

“Daarna het die nagmerrie begin. Ek het eerste vir die ministerie van die omgewing gebel. Hulle het na die derde oproep geantwoord en gesê hulle het nie ’n voertuig tot hul beskikking nie en kan dus nie help nie. Ek het begin om die veeartse te bel, maar dit was ook een na die ander verskoning. Die een was nie daar nie; die ander een het nie ’n verdowingsgeweer nie. So van daardie kant af het ook geen hulp gekom nie. Die omgewingsministerie het gebel en gesê ons moet maar die koedoe skiet en verwyder.”

Die bul is geskiet en ’n uur ná die eerste oproep na die omgewingsministerie het hulle met ’n Land Cruiser voor die erf stilgehou en die koedoe opgelaai.

“Toe het hulle skielik ’n voertuig nadat ons private vrywilligers al die werk gedoen het. Hulle het ’n foto gestuur om te wys hoe hulle die koedoe buite Windhoek verbrand. Ek weet nie of hulle die kop na die veeartsenydienste toe geneem het om te toets of hy wel hondsdol was nie. Dit is eintlik wat hulle moes doen.”

Volgens Henn was die strik al ’n paar dae om die koedoebul se nek.

“Ek is oortuig daarvan ons sou die koedoe kon verdoof, die strik losknip en dat hy sou herstel het. Ons kon hom red as iemand net bereid was om 04:00 op te staan, kantoor toe te ry om die verdowingsgeweer op te laai en die dier te verdoof. Ek sou die strik self afgeknip het, maar niemand was lus nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!