Groot geleentheid wink vir houtskoolbedryf

Byprodukte toenemend belangrik
Lande soos Switserland, Pole en die Verenigde Koninkryk (VK) is van die vinnigste groeiende uitvoermarkte vir Namibiese houtskool.
Elvira Hattingh
Die verpligte oorskakeling vanaf steenkool na ander bronne van verbranding vir Suid-Afrikaanse myne hou groot belofte vir Namibië se houtskoolbedryf in, juis omdat houtskool sterk vir dié doeleinde oorweeg word.

Michael Degé, hoofbestuurder van die Houtskoolverenging van Namibië (CAoN), sê die vereniging is reeds in onderhandelinge gewikkel met ‘n Noord-Kaapse myn wat ‘n behoefte aan sowat 80 000 ton houtskool per maand sal hê.

Hy het die afgelope Woensdag ‘n praatjie by die AgriXtra-landboudag op Grootfontein gelewer, waar hy die jongste nuus uit die bedryf gedeel het.

Degé sê verteenwoordigers van die myn sal Namibië binne weke besoek en dat hierdie verwikkeling uiters belowend vir die bedryf is.

Hy het dit vergelyk met die 220 000 ton houtskool wat Namibiese produsente tans maandeliks uitvoer. “As daar net een myn bykom waartoe ons die produk kan uitvoer, verhoog ons die syfer met sowat 100 000 ton.

“Dit is een van die groot redes waarom ek sê houtskool is hier om te bly,” het hy gesê. Volgens Degé sal grootmaat aankope van houtskool uit so ‘n ooreenkoms spruit goeie pryse sal hiervoor betaal word – soortgelyk aan dit wat vir Forest Stewardship Council (FSC) -goedgekeurde houtskool betaal word.

TOEKOMS

Degé het tydens die geleentheid gesê die toekoms sal egter na verwagting behels dat Namibië al minder houtskool verkoop en eerder al hoe meer byprodukte daarvan moet verkoop.

Degé sê persoonlik bevorder hy biohoutskool (biochar), houtskerwe en houtasyn, maar houtskool sal vir nou steeds die nommereen-produk bly.

“Die rede is dat dit die enigste produk is waarmee boere tans ‘n billike hoeveelheid geld kan verdien. ’n Ton biochar teen N$1 400 haal die helfte van houtskool se prys.

“Boonop ervaar ons al weer ‘n droogte en ons ontvang daagliks oproepe van nuwe mense wat met houtskoolproduksie wil begin – selfs meer as tydens 2019 se droogte. Dit is nog ‘n rede hoekom ons hard werk om nuwe produkte uit die houtskoolbedryf voort te bring.”

Lande soos Switserland, Pole en die Verenigde Koninkryk (VK) is van die vinnigste groeiende uitvoermarkte vir Namibiese houtskool – soveel so dat uitvoerlande soos Suid-Afrika, Finland en Nederland se aandeel in die uitvoere persentasiegewys krimp, hoewel die hoeveelhede konstant bly.

In Duitsland word aktiewe veldtogte gevoer oor Namibiese houtskool, met uitvoere na Europa wat bly groei.

Hy sê die produksie van onder meer biochar en houtasyn sal toenemend belangrik wees. Die vereniging werk nou saam met produsente van oorsese lande, veral in biochar-produksie. Namibië word as die leier hierin beskou, met Suid-Afrika wat in ons voetspore probeer volg, het Degé gesê.

ALTERNATIEWE PRODUKTE

Die vereniging werk tans saam met Makarra Bush Products vir die ontwikkeling van ‘n houtasyn-bedryf in Namibië, met laasgenoemde wat die produk van produsente sal koop en distilleer. Verskeie opleidingsessies word ook nog hiervoor beplan.

Degé het die vervaardigingsproses van houtasyn aan produsente verduidelik. Die rook van kilns word aanvanklik tydens houtskoolverbranding met ‘n eenvoudige rookontrekkingstoestel opgevang, dan is dit houtsuur.

Ná distillering is dit houtasyn, wat verskillende grade van gehalte het en dan vir medisiniale doeleindes vir mense en diere aangewend kan word of verskeie gebruike in tuinbou het. In lande soos Japan word dit reeds sedert die 1930’s gedoen.

Hy het gesê sowat 30 liter houtasyn kan van een kiln tydens een verbrandingsessie geproduseer word, terwyl die houtasyn met die beste gradering vir sowat N$10 per liter by produsente aangekoop sal word.

“Die behoefte aan houtasyn groei wêreldwyd,” het hy gesê. Hy het bygevoeg die plaaslike mark hiervoor ervaar ook tans sterk groei – veral vir houtasyn as plaasvervanger vir duur kunsmis.

ReëLS VIR HOUTSKOOLPRODUKSIE

“Verlede jaar se statistiek toon geen veldbrande is amptelik aangemeld wat deur houtskoolproduksie veroorsaak is nie. Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het selfs die houtskoolbedryf in ‘n toespraak hiervoor geloof,” het Degé gesê.

“Dit is die eerste jaar dat daar geen veldbrande as gevolg van houtskoolproduksie aangemeld is nie. Sentrale verbranding van houtskool het dié veldbrande in sy spore gestuit,” het Degé bygevoeg.

Hy het weer aan produsente verduidelik hoe die reëls voorskryf dat sentrale verbranding moet plaasvind, brandpaaie gemaak moet word en gebiede rondom kilns skoongemaak moet word.

“Geïsoleerde verbranding is iets van die verlede. Meld dit asseblief by ons aan indien enige produsent dit steeds doen. Klagte sal anoniem hanteer word,” het hy gesê.

Degé sê die nuwe reëls vir houtskoolproduksie moet nog deur die hoërhof goedgekeur word, maar behels hoofsaaklik dat produsente nie meer snags houtskool sal mag verbrand nie. Hy sê dit is hoofsaaklik omdat die rook snags laag bly lê en nie opstyg nie. Dit veroorsaak sigbaarheidsprobleme op paaie vir motoriste.

“Jy kan ook nie nader as 100 m aan ‘n nasionale pad of jou buurman se grensheining kole brand nie. Dit gaan ook oor die vermindering van rook en stropery asook die aanbring van goeie brandpaaie,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!