Calle Schlettwein, minister van landbou, water en grondhervorming. FOTO NAMIBIAN SUN
Calle Schlettwein, minister van landbou, water en grondhervorming. FOTO NAMIBIAN SUN

Gryp groenskema-geleentheid aan, sê APV

Akkerbouers verheug oor Calle se reaksie
Individuele akkerbouers word aangemoedig om aan die regering se versoeke vir voorstelle (RFP's) vanaf einde Mei deel te neem.
Elvira Hattingh
Die Akkerbou Produsentevereniging (APV) sê hulle is verheug oor die landbouminister se reaksie op hul versoek, naamlik dat hulle vanaf einde Mei aan die formele tenderproses kan deelneem om die groenskemas van die regering te huur.

Die vereniging het individue wat daarin geïnteresseerd is, aangemoedig om die geleentheid te benut om ʼn bydrae tot voedselsekuriteit te maak en die regering te help om sy doelwitte te bereik. “Sáám kan ons dit doen,” het die APV gereageer nadat Republikein gevra het of die vereniging aan die formele tenderproses gaan deelneem.

Dit volg nadat Calle Schlettwein, minister van landbou, water en grondhervorming, die afgelope Vrydag gesê het aangesien die vereniging die groenskemas vir so lank as drie seisoene vir koringproduksie sal wil huur, moet hulle eerder – soos almal anders wat daarin belangstel om die skemas te huur – aan die formele tenderproses vanaf einde Mei deelneem.

Dit kom nadat die APV, verbonde aan die Namibië Landbou-unie (NLU), onlangs ʼn openbare-private-vennootskap (PPP) vir die regering se noordelike groenskemaprojekte voorgelê het.

Die voorstel was om die groenskema-besproeiingsprojekte te benut om koring in die 2022-produksieseisoen te produseer met die oog om tekorte, wat weens die konflik in Rusland en Oekraïne veroorsaak word, aan te vul.

Dit sou beteken dat aanplantings reeds vanaf middel Mei tot middel Junie moet plaasvind, terwyl dit weer in die eerste twee weke van November gestroop sou word.

Die APV het aan Republikein gesê die vereniging het op 19 April ʼn brief aan die minister geskryf waarin ʼn voorstel gemaak word oor hoe om die groenskema-besproeiingsprojekte in die noorde van die land vir koringproduksie vir die 2022-seisoen te benut. Tans lê die groenskemas ledig.

Die minister het gereageer en die vereniging aangeraai om ʼn aansoek in te dien wanneer die regering versoeke vir voorstelle (RFP’s) vir die huur van groenskemas vanaf einde Mei publiseer. Dit sodat die groenskemas vir lank genoeg deur produsente gehuur kan word om ʼn opbrengs op hul belegging te kry. Die RFP’s sal stuk-stuk vanaf die einde van Mei gepubliseer word, het Schlettwein gesê.

Die vereniging het verduidelik dat Rusland vir die oorgrote meerderheid van Namibië se koring-invoere sorg – wat na raming op sowat 59,3% in 2020 gestaan het.

“Daarom sal ʼn onderbreking in die koringmark in Rusland ʼn impak op Namibië hê, soos reeds gesien kan word in die stygende pryse van brood en pasta.

“As ʼn vennoot van die ministerie en ʼn lede-organisasie, het ons gevoel ons moet die regering ondersteun in sy pogings om selfvoorsienend in kosproduksie te raak en daarom het ons dit goedgedink om die voorstel in te dien,” het die APV gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!