Honderde ton swaelsuur loop uit tenkwaens

Opruiming ná ontsporing vorder fluks, sê Dundee
Dit blyk minstens 405 000 liter swaelsuur het in die omgewing uitgeloop toe 'n trein verlede week ontspoor het.
Ronelle Rademeyer
Minstens nege van die 13 omgeslane tenkwaens vol swaelsuur wat Donderdagnag tussen Otavi en Otjiwarongo ontspoor het, het leeg gelek.

Dit beteken die 45 000 liter swaelsuur (45 ton) in elk van dié waens het in die omgewing uitgeloop – dus 405 000 liter in totaal.

Dit was gister nog nie seker hoeveel van hul inhoud die ander vyf waens verloor het nie, aangesien daardie waens nog op hul wiele getel moes word.

So het mnr. Quinton Galloway, bestuurder van beskermingsdienste by Dundee Precious Metal op Tsumeb, gister by navraag gesê toe hy oor vordering met die opruimingswerk op die ongelukstoneel uitgevra is.

Die trein met sy vrag swaelsuur het omstreeks halftien Donderdagaand naby die Platveld-stasie ontspoor. Dit is sowat 2 km vanaf die plek waar ’n trein met 18 waens vol swaelsuur presies ’n jaar gelede ook ontspoor het.

Galloway het verduidelik besoedelingsdamme is rondom die gemorste swaelsuur gebou en met marmerstof gevul om die suur te neutraliseer.

Hy sê die inhoud van die besoedelingsdamme sal met laaigrawe op treintrokke gelaai en na dié mynmaatskappy se perseel op Tsumeb vervoer word.

Die swaelsuur dring volgens hom nie die grond diep binne nie.

Galloway sê dit sal onder streng toesig van Dundee se omgewingbewaringspan “deur prosesse gesit word”.

Volgens hom behels dit die vernieting daarvan in hoofbrandoonde.

Hy sê dié span in noue verbinding met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme wat toesien dat die prosesse reg gevolg word.

Intussen het mnr. Leon Steyn, terreinbestuurder by D&M Rail wat vir die instandhouding van die spoorlyn verantwoordelik is, aan Republikein gesê ’n gebreekte spoorstaaf het moontlik tot die ontsporing gelei.

“Die spoorlyn is sowat 70 jaar oud en metaalvermoeiing veroorsaak gereelde breke op die spoorlyn.”

Hy sê dit gebeur soms in die omgewing van dorpe dat mense die bevestigingstukke van die spoorlyn af steel om vir skrootmetaal te verkoop, maar dit was nie hier die geval nie.

Die bevestigingstuk is die stuk metaal waarmee die dwarslêer aan die spoor geheg word.

“Die bevestigingstuk was beslis nie losgemaak nie. Die ontsporing is na my mening deur ’n gebreekte spoorstaaf veroorsaak. TransNamib is nog besig met die ondersoek,” het Steyn gesê.

Volgens Galloway sal die spoorlyn waarskynlik teen vandag weer vir treinverkeer oopgestel word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!