Twitter
Twitter

Indië drie Namibiese jagluiperdwelpies ryker

‘Reusesukses vir hervestigingsprogram’
Altesaam 20 jagluiperds van Suid-Afrika (12) en Namibië (agt) is in 2022 na die Kuno Nasionale Park in die Madhya Pradesh-provinsie verskuif.
Gerine Hoff
Ellanie Smit – Die Namibiese jagluiperd, Asha, wat in Indië hervestig is, het vroeg in die nuwe jaar die lewe aan drie welpies in die Kuno Nasionale Park geskenk.

Altesaam 20 jagluiperds van Suid-Afrika (12) en Namibië (agt) is in 2022 na die park in die Madhya Pradesh-provinsie verskuif – meer as 70 jaar nadat die spesie in Indië uitgesterf het.

Ses het sedert Maart 2023 gevrek, insluitend drie uit vier Namibiese welpies. ’n Jagluiperdwyfie van Namibië, Sasha, is op 27 Maart 2023 weens ’n nierkwaal dood, en Uday, ’n Suid-Afrikaanse jagluiperd, in April as gevolg van kardiopulmonêre versaking.

Nog ’n Suid-Afrikaanse jagluiperdwyfie, Daksha, het op 9 Maart gevrek ná ’n noodlottige interaksie met ’n mannetjie tydens ’n paringspoging.

Bhupender Yadav, die Indiese minister van die omgewing, bosbou en klimaatsverandering, het op 3 Januarie vanjaar die nuus van die drie welpies in die sosiale media gedeel: “Opgewonde om te bevestig dat die Kuno Nasionale Park drie nuwe inwoners verwelkom het. Die welpies is gebore van die Namibiese jagluiperd, Asha.”

Hy het gesê dit is ’n reusesukses vir die hervestigingsprogram wat poog om ekologiese balans in die park te herstel.

“Baie geluk aan alle kundiges wat by die projek betrokke is, die Kuno-wildbeamptes en natuurlewe-entoesiaste oraloor Indië.”

Verlede jaar het die Namibiese jagluiperd, Jwala, geboorte aan vier welpies geskenk nadat sy met ’n jagluiperd genaamd Gaurav gepaar het. Drie van die welpies het egter in Mei weens uiterste weerstoestande gevrek. Die tien maande oue welpie wat oorleef het se ma het hom verwerp nadat wildbeamptes hom vir behandeling weggeneem het. Hy word tans deur die Kuno-parkbeamptes versorg.

Kommer is egter oor die projek uitgespreek. In ’n referaat wat in April 2023 in die Conservation Science and Practice gepubliseer is, het navorsers opgemerk dat die jagluiperds weens die Kuno Nasionale Park se grootte ver buite die park se grense kan dwaal. Die park beslaan ’n gebied van sowat 748 vierkante kilometer.

Die Jagluiperdbewaringsfonds (CCF) in Namibië het verlede jaar ná die dood van die ses jagluiperds gesê: “Hoewel dit te vroeg is om die hervestiging van jagluiperds in Indië as ’n sukses te bestempel, het jagluiperds die vermoë om in Indië te oorleef, hoewel die projek kan verwag om nog terugslae en uitdagings die hoof te bied.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!