Inisiatief verbreed kennis oor olifante

Program vir leerlinge vanaf graad 5 tot 7
Die S.E.E.D-program se kurrikulum is prettig en bestaan uit uitdagende aktiwiteite wat deur die Nasionale Instituut vir Opvoedkundige Ontwikkeling goedgekeur is.
Tanja Bause
Die organisasie Elephant Human Relations Aid (EHRA) het deur die jare wat hulle opleiding aan honderde kinders in bewaring, die omgewing en olifante aangebied het, ’n gebrek aan bewustheid oor die omgewing opgemerk en die rol wat die woestynaangepaste olifante in die delikate woestyn-ekosisteme speel.

EHRA het die volhoubare omgewingsopleiding vir ontwikkeling (S.E.E.D)-program ontwerp om dié kwessie te takel. Die program is eksklusief vir Namibiese skole vir leerlinge vanaf graad 5 tot 7.

Die program se kurrikulum is prettig en bestaan uit uitdagende aktiwiteite wat goedgekeur is deur die Nasionale Instituut vir Opvoedkundige Ontwikkeling (Nied), ’n organisasie wat aan die spits staan van basiese onderwyshervorming en -ontwikkeling in Namibië.

Die kinders leer onder meer oor die verhouding tussen olifante en hul omgewing, klimaatsverandering, aardverwarming, die sonnestelsel, die watersiklus en afvalbestuur. Hulle sal ook ’n begrip van mens-olifant-konflik ontwikkel en leer wat om te doen as hulle ’n olifant teëkom.

Die program is in September in die nuwe Environmental Education Centre in die Kunenestreek bekend gestel, wat moontlik gemaak is deur samewerking met die Britse roomyshandelsmerk, Nuii, en die bewaringsorganisasie, WildArk. Die geriewe kan meer as 50 studente op ’n slag akkommodeer.

Kinders van landelike, minderbevoorregte skole sal elke keer as ’n betalende skool kan deelneem, om die S.E.E.D-program toeganklik vir almal te maak.

Volgens me. Anna Sheehama, assistent vir bewaringsprogramme, weet almal jongmense is die sleutel tot werklike verandering.

“Hulle moet bewus word van hul impak op die omgewing. Ons is opgewonde om meer Namibiese kinders die kennis, vaardighede en passie te gee om ’n meer volhoubare toekoms te bou,” het sy gesê.

Volgens me. Rachel Harris, besturende direkteur van EHRA, het die Namibiese kamer van die omgewing die eerste tien skole se deelname geborg.

“Sedert 2009 het ons opleiding oor olifantgedrag en veiligheid verskaf, en sonder twyfel verhoog die opleiding mense se verdraagsaamheid teenoor olifante. Ons is vol vertroue dat die S.E.E.D-program kinders sal inspireer, en vir die komende jare ’n positiewe uitwerking in plaaslike gemeenskappe sal hê,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer