‘Jag van probleemleeus déél van bewaring’
Trofeejagter dok N$150 000 op
Die konflik tussen mense in bewaringsgebiede in die Noordweste en woestynleeus wat weens die langdurige droogte veestapels hul prooi maak, het nog 'n slagoffer geëis.
‘n Woestynaangepaste leeumannetjie wat gemeenskappe by Sesfontein en Puros jare lank “geterroriseer” het en groot getalle beeste, donkies en bokke gevang het, is deur ‘n trofeejagter vir N$150 000 geskiet.
Dit was nadat die leeu bekend as Romeo (XPL 131) ingevolge die Natuurbewaringordinansie, nr. 4 van 1975, as probleemdier verklaar is.
Hy was tussen 8 en 10 jaar oud.
Die ministerie van die omgewing en toerisme sê die leeumannetjie was berug daarvoor dat hy die mense in die gebied se vee sy prooi gemaak het.
Volgens mnr. Romeo Muyunda, ministeriële woordvoerder, het hy sedert 2019 altesaam 12 beeste, 13 donkies en nege bokke gevang.
“Die leeu is verskeie kere snags waargeneem by nedersettings waar mense woon en hy hul lewens bedreig het. Hy was ook nie bang vir mense nie,” sê Muyunda in die verklaring.
Dit blyk voorkomende maatreëls is vroeër ingestel, soos om hom verder wes van Sesfontein na Ga!Ai te verskuif, maar hy het teruggekom.
Muyunda sê gemeenskappe in die gebied het verskeie kere ‘n beroep op die ministerie gedoen om in te gryp voordat die leeu meer skade aanrig, of erger nog, ‘n mens aanval.
“Die leeu het ‘n nekband gehad en sy bewegings is gemonitor, wat beteken die ministerie het sy volledige geskiedenis geken,” sê hy.
Die Sesfontein- en Puros-bewaringsgebied het elk N$65 000 ontvang om die veeboere vir hul verliese te vergoed.
Verder is N$20 000 van die jaginkomste aan die Wildproduktefonds oorbetaal, met die doel om in bewaring te belê.
Muyunda het verder daarop gewys hierdie werkwyse is deel van die ministerie se bewaringsmetodiek, veral wat die vermindering van mens-dier-konflik betref.
Hy sê mense wat met probleemdiere saamleef, besef hoe belangrik hierdie manier van probleemoplossing is en maan teen “individue en organisasies wie se enigste belang dit is om die ministerie in ‘n swak lig te stel”.
Muyunda sê hulle het self baie min gedoen om die gemeenskappe en owerhede by te staan om die situasie te beredder.
“Hulle wag net vir besluite om geneem te word, en dan vind hulle dinge om te kritiseer,” sê hy.
Die ekoloog en omgewingswetenskaplike dr. Chris Brown sê hierdie strategie van die ministerie word ten volle ondersteun deur die betroubare en wetenskap-gedrewe omgewings- en bewarings-instansies in Namibië.
Brown, wat die uitvoerende hoof van die Namibië Kamer van die Omgewing (NCE) is, sê gemeenskaplike bewaringsgebiede is nie nasionale parke nie, maar gebiede waar landelike gemeenskappe – meestal boere – wild volhoubaar wil bestuur vir hul eie finansiële en kulturele voordeel.
“Hulle lewer sodoende 'n groot bydrae tot nasionale en internasionale bewaringsagendas. En hulle is bereid om karnivore op hul grond te duld, mits die vlak van bedreiging vir hulle, hul gesinne, hul vee en hul lewensbestaan nie buitensporig is nie,” sê hy.
Brown het dié opmerkings in 2018 in die sosiale media gemaak toe die jag van ‘n woestynaangepaste probleemleeu in dieselfde gebied, in die internasionale media onder skoot gekom het.
Brown wys daarop leeubevolkings het oor die jare in die Kunenestreek toegeneem.
“Dit is een van die min gebiede op aarde waar lewensvatbare leeubevolkings buite parke voorkom en een van nog minder gebiede waar leeus die afgelope jare aansienlik in getalle toegeneem het.
Die woestynaangepaste leeubevolking in Namibië het oor die afgelope 20 jaar toegeneem van ongeveer 20 leeus in 1997, tot 'n geraamde 112 tot 139 diere in 2018. Dit het gelei tot verhoogde konflik tussen mense en leeus, wat veral akuut geword het as gevolg van die onlangse droogte. Die droogte het verskeie verwante impakte gehad, wat almal die konflik vererger, blyk dit uit ‘n artikel deur dr. Maaike Schepper, Shauna Jenkins en dr. Rudie van Vuuren wat in September verlede jaar in Conservation Namibia gepubliseer is.
Brown sê plaaslike wetenskaplikes is bekommerd oor wêreldwye leeu-tendense en getalle wat daal.
“Ons is ook deeglik bewus van plaaslike leeubevolkingsgetalle en -neigings – dit is ons taak. Maar ons takel die kwessie van leeus en ander roofdiere binne die konteks van hul omgewing en die heersende situasie,” sê hy.
Brown wys daarop weens die erge droogte in die Kunenestreek het wildsgetalle afgeneem en honger leeus maak veestapels hul prooi. “Baie gesinne het hul hele kudde verloor. Hierdie mens-dier-konflik moet op 'n aantal maniere bestuur word en die vermindering van probleemleeus is deel van die strategie,” sê hy.
Volgens statistiek wat in 2017 deur die ministerie vrygestel is, is daar in die voorafgaande tien jaar altesaam 15 woestynleeus deur trofeejagters geskiet. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie