Kameelperd sonder kolle ’n eerste vir Namibië

‘Stille uitsterwing’ ’n rede tot kommer
Die GCF het verduidelik elke kameelperd het 'n unieke patroon wat hulle uitkenbaar maak.
Iréne-Mari van der Walt
Ellanie Smit – Die eerste kameelperd sonder kolle is in Namibië gewaar toe dit by die Mount Etjo Private Safari Lodge afgeneem is.

Volgens die Kameelperdbewaringsfonds (GCF) was dit slegs weke ná die geboorte van ’n kameelperd sonder kolle in ’n dieretuin in Tennessee in die VSA wat die internasionale nuus gehaal het.

Die GCF het gesê die jong Angolese kameelperd wat in Namibië opgemerk is, is ook die eerste van dié soort wat in die natuur in Afrika aangeteken is.

Die stigting het egter opgemerk hoewel hierdie buitengewone kameelperd baie mense oraloor die wêreld aangegryp het, het dit nie hulle aandag op die kwessie van kameelperde se stille uitsterwing gevestig nie.

Daar is glo bykans net 117 000 kameelperde in die hele Afrika oor.

“Kameelperde het reeds in minstens sewe Afrikalande uitgesterf. En om sake vir hierdie ikoniese diere te vererger, weet ons nou daar is vier kameelperdspesies in Afrika.”

Die GCF het verduidelik elke kameelperd het ’n unieke patroon wat hulle uitkenbaar maak.

Hierdie eienskap maak dit makliker om hulle te tel en deur kunsmatige intelligensie (KI)-programme kan meer akkurate kameelperdgetalle bepaal word – selfs vir groot bevolkingsgroepe.

Die stigting het gesê dit kan egter effens moeiliker wees om kameelperde sonder kolle met behulp van KI te tel, want hoewel hierdie kameelperde skaars is, het hulle nie ’n patroon om hulle van ander te onderskei nie.

“Gelukkig is kameelperde sonder kolle ’n seldsame verskynsel. Voor die ontdekking van dié kameelperd was daar net twee sulke bruin kameelperde op rekord, beide in dieretuine. Een in Japan in 1972 en die mees onlangse een in die VSA.”

Die GCF het gesê hoewel dit nie buitengewoon is dat kleurvariasies of veranderinge in kol- of streeppatrone in verskeie spesies waargeneem word nie, is die oorsaak van hierdie variasies dikwels onbekend.

“Die gebrek aan kolle kan veroorsaak word deur genetiese mutasies, maar sonder gedetailleerde genetiese ontleding is dit blote spekulasie,” sê dr. Julian Fennessy, die GCF se medestigter en bewaringsdirekteur.

Stephanie Fennessy, die GCF se uitvoerende direkteur en ander medestigter, het gesê daar hoef nie altyd verklarings vir alles te wees nie.

“Kameelperde is in die moeilikheid en as ons nie nou optree nie, sal ons kleinkinders dalk geen kameelperde in die natuur kan sien wanneer hulle groot is nie. Dit is wat my regtig bekommer. Maar die goeie nuus is dat dit nie te laat is nie! As ons nou optree, kan ons ’n toekoms verseker vir hierdie sagte reuse in die natuur.”

Die GCF glo hierdie twee bruin kameelperde kan mense inspireer om in te gryp en broodnodige fondse in te samel om Namibië se unieke bruin babakameelperd en ander kameelperdspesies in die Afrika-natuur te bewaar voor dit te laat is.

Die GCF implementeer en/of ondersteun tans kameelperdbewaringspogings in 19 Afrikalande, wat oor meer as 100 miljoen hektaar se kameelperdhabitat strek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!