Klimaatsverandering sal ’n ernstige impak op die toekoms van gemeenskappe in Kaza hê. Foto Wêreld-Natuurfonds (WWW)
Klimaatsverandering sal ’n ernstige impak op die toekoms van gemeenskappe in Kaza hê. Foto Wêreld-Natuurfonds (WWW)

Klimaatsverandering het reuse-impak op Kaza

Toerismeseisoen kan verander
Binne Kaza kan bloedige warm dae (hoër as 35 grade Celsius) twee- tot drievoudig toeneem.
Ellanie Smit
Klimaatsveranderinge wat oor die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza TFCA) afspeel, sal ’n reuse-impak op die lewensbestaan van inwoners hê.

Dit is volgens die “Livelihood-Focused Climate Risk Assessment” wat die lewensbestaanopsies in die wêreld se grootste oorgrensbewaringsgebied ondersoek.

Die verslag deur Kaza onder die Verenigde State van Amerika se Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAID) het gesê korter en toenemend veranderlike reënvalpatrone sal die betroubaarheid van reënafhanklike landbou, wat noodsaaklik is vir plaaslike voedselsekerheid, verminder.

“Droogtepatrone sal die groei van die toerismebedryf verder beperk, aangesien die bedryf sterk op water staatmaak om die natuurlewe te ondersteun wat duisende toeriste elke jaar lok.”

Die verslag sê verder ’n langer droë seisoen sal ook veeproduksie beïnvloed en negatiewe mens-dier-konflik sal vererger, wat ’n meer daadwerklike poging sal vereis om water te bewaar en te bestuur om aan landbou-, natuurlewe- en ekologiese eise te voldoen.

Die gevaar van veldbrande verhoog, wat die waarskynlikheid van groot wegholbrande ná reënseisoene sal verhoog en die lewensvatbaarheid van bewaringsprogramme bedreig, volgens die verslag.

“Ons modelle dui ook daarop dat die omvang van oorstromings sal toeneem en ver verby bestaande vloedvlaktes sal strek tydens toekomstige vloedgebeure met ’n ingewikkelde netwerk van paaie, toeriste-lodges en nedersettings wat in die water se pad is.

“Daar word verwag dat klimaatsverandering die gemiddelde jaarlikse temperatuur en die intensiteit, duur en frekwensie van uiterste hitte sal verhoog, met onvermydelik ’n groter aantal mense wat die risiko van hitteverwante mediese toestande loop.”

Dit sal volgens die verslag vee- en gewasproduksie beperk asook die tyd wat aan buitemuurse en fisiek veeleisende aktiwiteite bestee word en moontlik die toerismeseisoen beïnvloed.

“Teen die middel van die eeu sal maksimum temperature gedurende die warmste deel van die jaar (Oktober en November) oor Suider-Afrika na verwagting met 2,5 grade Celsius tot 3,5 grade Celsius styg en binne Kaza kan bloedige warm dae (hoër as 35 grade Celsius) twee- tot drievoudig toeneem.



AANPASSING

Volgens die verslag, gegewe die klimaatbedreigings tesame met relatief lae vlakke van aanpassingskapasiteit, moet beleggers in nuwe markte en inkomstegeleenthede eers ’n groter begrip kry van verwagte klimaatrisiko’s en wat nodig is om daarby aan te pas.

Oplossings vir aanpassing bestaan en baie hulpbron- en klimaatafhanklike huishoudings kan voortbestaan in gebiede met voldoende ondersteuning, luidens die verslag.

Aktiwiteite soos boerdery en visvang kan baat vind by groter toegang tot inligting oor klimaat en finansiering vir klimaatrisiko’s. Intussen kan owerhede help om persoonlike aanpassing aan te spoor deur finansiering meer toeganklik te maak, inheemse kennis en praktyke te bevorder, tegniese leiding te verskaf en te verseker dat die nodige klimaat-aanpasbare materiaal beskikbaar is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 22° | 43° Rundu: 21° | 37° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 18° | 34° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 20° | 34° Gobabis: 23° | 37° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 36° Mariental: 21° | 39° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 20° | 39° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 17° | 36° Oranjemund: 12° | 23° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 20° | 37° Lubumbashi: 16° | 34° Mbabane: 16° | 18° Maseru: 13° | 34° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 27° Windhoek: 20° | 34° Cape Town: 16° | 22° Durban: 18° | 23° Johannesburg: 19° | 33° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 21° | 37° Harare: 21° | 33° #REF! #REF!