Kunene-beamptes kry opleiding in vroeë waarskuwingstelsels
Klimaatsverandering verg proaktiewe benadering
'n Slypskool in gemeenskapsgebaseerde vroeë waarskuwingstelsels is onlangs op Khorixas aangebied.
Opleidingsbeamptes het onlangs ’n slypskool in gemeenskapsgebaseerde vroeë waarskuwingstelsels op Khorixas in die Kunenestreek bygewoon wat deur die Improving Rangeland and Ecosystem Management (IREMA)-projek aangebied is. Die beamptes het opleiding ontvang oor die implementering en handhawing van ‘n effektiewe vroeë waarskuwingstelsel (EWS), met die doel om die veerkragtigheid van plaaslike landboustelsels te versterk vir verbeterde voedsel- en voedingsekerheid in die streek. Die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië (EIF) is tans besig om die projek – wat deur die Green Climate Fund (GCF) gefinansier word – in samewerking met die ministerie van landbou te implementeer. Volgens die EIF moes kleinskaalse boere in die Kunene die afgelope dekade herhaaldelik droogte- en vloedtoestande verduur, wat uitgeloop het op die verlies van hul primêre bron van inkomste. “Baie mense wat in Kunene woon, is afhanklik van veeboerdery, gemeenskapsgebaseerde natuurlike hulpbronbestuur en die gebruik van biodiversiteitsprodukte om in hul daaglikse behoeftes te voorsien,” het die EIF gesê. Die EIF het voorts gesê ’n natuurlike hulpbrongebaseerde lewensbestaan is tot ‘n mate kwesbaar vir klimaatsverandering. Namibië neem steeds die voortdurende natuurlike variasie en veranderinge in reënvalpatrone waar, vandaar die afgelope jare se oorheersende uiterste weerstoestande. “Om voorberei te wees op moontlike rampe wat deur klimaatsveranderlikes meegebring kan word, is daar ‘n behoefte aan proaktiwiteit, eerder as reaktiwiteit,” sê mnr. Lot Ndamanomhata, die korporatiewe kommunikasiebestuurder by die EIF. RISIKOBESTUUR Die EIF het gesê hoewel dit nie moontlik is om te voorspel watter uitwerking toekomstige klimaatstoestande sal hê nie, is dit van uiterste belang om relevante hulpbronne te ondersoek wat hulle in staat sal stel om akkurate inligting vas te lê en te versprei om ten einde uiterste klimaatrisiko's te bestuur. ’n Effektiewe vroeë waarskuwingstelsel is ‘n aanpasbare maatreël vir klimaatsverandering, wat geïntegreerde kommunikasiestelsels gebruik om kwesbare gemeenskappe te help om voor te berei vir gevaarlike klimaatverwante skokke. “So ‘n stelsel hou verskeie voordele in, soos om lewens en lewensbestaan te red, vrugbare grond en produktiewe infrastruktuur te beskerm, en lang termyn volhoubaarheid te ondersteun. Dit voldoen aan die missie van die EIF wat daarop gemik is om volhoubare ekonomiese ontwikkeling in Namibië te bevorder deur belegging in- en bevordering van aktiwiteite en projekte wat die natuurlike en omgewingshulpbronne van die land beskerm en in stand hou.” Die EWS sal gemeenskappe van 'n dreigende ramp waarsku om proaktiewe optrede te onderneem wat op die vier komponente geskoei is: Gevaaropsporing, monitering en voorspelling, ontleding van risiko's en inkorporering van risiko-inligting in noodbeplanning en -waarskuwings, verspreiding van tydige en gesaghebbende waarskuwings en gemeenskapsbeplanning en paraatheid. Gemeenskappe wat deur ‘n dreigende ramp in die gesig gestaar word, sal gewaarsku word om proaktiewe stappe te neem wat gebaseer is op vier komponente; naamlik die opsporing van gevaar, monitering en voorspelling, ontleding van risiko’s en inkorporering van dié inligting in noodbeplanning en waarskuwings, verspreiding van tydige en gesaghebbende waarskuwings en gemeenskapsbeplanning en paraatheid. LANG TERMYN Dit sal kleinboere se aanpassingsbehoeftes takel deur toegang tot akkurate en bygewerkte klimaatinligting te verbeter. Volgens die EIF sal die ingryping baie help om huidige stappe of prosedures wat onderneem word voordat vroeë waarskuwingsboodskappe die spesifieke bevolkings in gevaar bereik, tot die minimum te beperk. Die ontwikkeling van ‘n spesifieke EWS vir die Kunenestreek sal nie net gemeenskappe en openbare instellings bystaan in hul beplanning nie, maar sal ook help om noodsaaklike finansiële hulpbronne op die lang termyn te bewaar en sodoende die plaaslike en nasionale ekonomie te beskerm. Vroeë waarskuwingsinligting bemagtig mense om op te tree vóór rampe kan toeslaan. - republikein@republikein
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie