Hopolang Phororo, VN se inwonerskoördineerder, het tydens 'n besoek aan die Kavango-Wesstreek die impak van klimaatsverandering opgemerk. Foto VN NAMIBIA
Hopolang Phororo, VN se inwonerskoördineerder, het tydens 'n besoek aan die Kavango-Wesstreek die impak van klimaatsverandering opgemerk. Foto VN NAMIBIA

Kwessies teister Kavango-Wes

Klimaatsverandering ’n groot kommer
Die Verenigde Nasies werk saam met die regering om veral vroue, kinders en moeders in dié gemeenskap by te staan.
Ellanie Smit
Klimaatsverandering veroorsaak baie ontwrigtings wat wissel van voedselonsekerheid, verhoogde werkloosheid, omgewingsagteruitgang en gesondheidsbedreigings.

"Die impak van klimaatsverandering is baie werklik en ek het dit eerstehands gesien tydens ’n onlangse besoek aan die Kavango-Wesstreek," het Hopolang Phororo, die Verenigdge Nasies (VN) se verteenwoordiger in Namibië, gesê.

"Mens sien die dorre grond, die sigbare ribbes van vee - beeste en bokke - en die druk op die gemeenskap se waterbronne om beide die gemeenskap en die vee te akkommodeer."

Sy het gesê dat die droogte ’n geweldige impak het op die gemeenskappe en dat hulpbronne van die Verenigde Nasies se Sentrale Noodreaksiefonds (CERF) gemobiliseer word om regeringspogings te ondersteun en die mees kwesbare groepe binne die bevolkings te bereik, naamlik vroue, kinders en moeders wat borsvoed.

Volgens haar spreek die VN se poging hierdie kwessies op ’n geïntegreerde wyse in die Mupuni-nedersetting se Uitbreiding 1 aan. Dit is ook hier waar die Wêreldvoedselprogram (WFP) koskoepons uitdeel en ’n sopkombuis vir kinders tussen 6 maande en 9 jaar oud gevestig het. Die VN se Kinderfonds (Unicef) bied ook ondersteuning aan vroue en kinders wat immunisering insluit. Buiten vir hierdie inisiatiewe, verskaf die VN se Bevolkingsfonds (UNFPA) ook gesinsbeplanning en beradingsdienste aan vroue.

Phororo het ook vertel dat sy in die nedersettings wat sy besoek het, baie moeders opgemerk het wat borsvoed, asook talle swanger tienermeisies.

"Dit het negatiewe gevolge, soos om die kind op ’n vroeë ouderdom op te hou borsvoed en die baba van voedingstowwe te ontneem wat lei tot ondervoede kinders. Dit gebeur veral in huishoudings wat deur armoede geteister word."



TIENERSWANGERSKAPPE

Phororo het gesê dat tienerswangerskappe ’n kwessie van ernstige kommer in Namibië is en in 2021-'22 het die Kavango-Wesstreek die hoogste swangerskapkoers in die land aangeteken.

“As tieners swanger raak, wat beteken dit in terme van die oordrag van MIV? Seksuele en voortplanings- gesondheidsdienste is van kardinale belang, maar hoe kan ons verder ons dogters en kleindogters opvoed en bemagtig dat seks kan wag en dat hulle fokus eerder op hul studies moet wees?"

Sy het gesê dat verskeie pogings in die streek erken word, maar die behoeftes is oorweldigend en dit was glo duidelik dat hierdie pogings slegs ’n druppel in die emmer is. Phororo meen dat hulle veerkragtigheid in die dorpe moet versterk.

"’n Geïntegreerde program wat verskillende fasette in die gemeenskap aanspreek, is van kardinale belang en ons moet nog meer doen. Ons ingesteldheid en dié van die gemeenskapslede moet getransformeer word en laat ons nooit vergeet dat die gemeenskap verantwoordelik is vir sy eie lot nie."

Sy het ook daarop gewys dat geen enkele vennoot, insluitend die VN, hierdie taak alleen kan aanpak nie en dat dit net ’n verskil kan maak as die streekowerhede, gemeenskapslede, burgerlike samelewingsorganisasies, privaat sektor en skenkers op 'n gekoördineerde wyse saamwerk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer