Wildlife conflict
Wildlife conflict

Miljoene betaal vir mens-dier-konflik

Vier mense vanjaar dood
Sedert 2019 is altesaam 37 mense deur wild doodgemaak, waarvoor N$3,6 miljoen uitbetaal is.
Kristien Kruger
Ellanie Smit – Oor die afgelope 15 jaar is nagenoeg N$42 miljoen aan voorvalle van mens-wild-konflik oraloor die land bestee.

Vanjaar alleen is N$1,58 miljoen aan slagoffers van dié voorvalle betaal.

Volgens die hooftoesigbewaarder verantwoordelik vir die bestuur van konflik tussen mens en dier en bewaringsjag in die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Richard Freyer, toon data vanaf 2019 tot op hede dat betalings wat buite bewaringsgebiede aan mens-dier-voorvalle gemaak is, meer as N$2,57 miljoen beloop het en binne bewaringsgebiede N$15,59 miljoen.

“Ons probeer nog om al die data van voor 2019 te herwin, maar dit is ’n groot taak,” het hy tydens ’n aanbieding oor die implementering van ’n mens-wild-bestuurskema wat selfstandigheid bevorder (Human Wildlife Control Self Reliance Scheme) gesê.

Sedert 2019 is altesaam 37 mense deur wild doodgemaak, waarvoor N$3,6 miljoen uitbetaal is, het hy gesê.

Sestien van dié sterftes is deur krokodille veroorsaak, terwyl seekoeie 13 mense doodgemaak het. Die ander sterftes is deur olifante en ’n bobbejaan veroorsaak.

Freyer het bygevoeg dat vier mense vanjaar hul lewens in soortgelyke voorvalle verloor het.

KWESBAAR VIR MISBRUIK

Vergoedingskemas wat in die verlede geïmplementeer is om die verliese te dek wat deur wildkonflik veroorsaak is, was volgens hom problematies en oop vir misbruik.

“Daar was dus ’n behoefte om ander maniere te vind om verliese wat deur wild veroorsaak word, te verreken en terselfdertyd selfstandigheid onder boere te bou. Daarom verwys ons eerder daarna as ’n verrekeningstelsel (off-set system) as ’n vergoedingskema.”

Hy het gesê ’n aantal mense word jaarliks in Namibië deur wilde diere doodgemaak.

“Die staat besit wetlik alle wild behalwe waar wetgewing anders bepaal.” Freyer wys daarop hoewel die regering nie wetlik verantwoordelik gehou kan word as ’n wilde dier ’n persoon doodmaak nie, besef die regering hy het ’n morele verpligting om die gesin te ondersteun deur die begrafniskoste te dek.

Die skema is slegs van toepassing op bewaringsgebiede, nie-bewaringsgebiede op staatsgrond en hervestigingsplase, en nie op private plase nie.

“Konflik” wat deur wilde diere veroorsaak word, sluit in die verlies van lewens en beserings aan mense, plundery en die vrekmaak van vee, skade aan eiendom, vernietiging van oeste en tuine, skade aan plantegroei en mededinging tussen vee vir voer.

Freyer het verduidelik volgens die huidige polis is die verrekeningsbedrag vir lewensverlies N$100 000 – ’n verhoging vanaf N$50 000 in die vorige polis.

Die vorige polis het nie ’n kategorie gehad as mense beseer is nie. Intussen ontvang ’n persoon met ’n besering, maar wat nie ’n ledemaat verloor het nie, N$10 000, en diegene wat ’n ledemaat verloor het, N$30 000. Vir permanente ongeskiktheid ontvang die persoon N$50 000.

Vir die verlies van ’n koei of ’n bul word N$3 000 uitbetaal, vir ’n skaap N$700 en oesskade per hektaar N$1 000.

Van die uitdagings wat met die skema ondervind word, is agterstande en ondersoekvaardighede, terwyl sommige bewaringsgebiede nie rekenskap kan gee van fondse wat aan mens-wild-konflik bestee word nie, het Freyer gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!