Misdaadnetwerke in Viëtnam teiken nou renosters
Nuwe bevindinge in wildmisdaadverslag gedeel
Data wat ingesamel is, toon dat gedurende 2020-'21 beslag op 83 kg Namibiese renosterhorings gelê is.
Ellanie Smit - Die handel in renosterhoring bly ’n ernstige probleem wat dringend aandag moet geniet aangesien transnasionale georganiseerde misdaadnetwerke dié diere teiken.
Dit volgens ’n nuwe wildmisdaadverslag wat die Wildlife Justice Commission (WJC) uitgereik het.
Luidens die verslag is onder meer bevind dat Viëtnamese misdaadnetwerke die leemte vul wat gelaat word deur die uitwissing van Chinese netwerke in Namibië, Suid-Afrika, die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), Angola en Mosambiek.
“Net in Suid-Afrika is Chinese netwerke steeds aan die voorpunt van die onwettige handel in renosterhoring.”
Luidens die verslag werk die WJC sedert sy stigting in 2015 aan 16 verskillende meerjarige ondersoeke na renosterverwante misdade in Viëtnam, China, Maleisië, die Demokratiese Volksrepubliek Laos, Namibië, Suid-Afrika, Mosambiek, DRK, Thailand, Angola en Kambodja.
Daarvolgens is dit moeilik om te kwantifiseer hoeveel renosterhoring wettig aangehou word aangesien min lande hul voorraad in die openbaar bekend maak. Die jongste syfers dui egter daarop dat meer as 87 ton renosterhorings en -stukke in tien Afrikagebiede aangehou word.
Luidens die verslag toon die ontleding van data oor beslaglegging van dié items dat Maleisië uitgestaan het as ’n belangrike transitoland vir die verhandeling in renosterhoring tussen Afrika en Asië. Dit word verbind met beslagleggings in Uganda, Mosambiek, Namibië en Suid-Afrika.
Data wat ingesamel is, toon verder dat daar gedurende die 2020-’21-tydperk beslag gelê is op 83 kg Namibiese renosterhorings.
Die verslag lui voorts dat gestroopte horings steeds ’n sleutelitem in die voorsieningsketting van onwettige goedere is. Dié horings kom hoofsaaklik uit Suid-Afrika – waar stropingsyfers hoog bly ondanks die afname van 50% sedert die piek in 2014 – maar ook van ander lande soos Botswana, Namibië en Zimbabwe.
Volgens inligting wat deur die WJC ingesamel is, blyk dit handelaars in die DRK kry hul horings van renosters wat in Kenia, Namibië en Botswana gestroop is, en sommige het hul “voorraad” in Zambië aangehou.
Een van die bevindings was ook dat die vermeende Zimbabwiese stroper, mnr. Dumisani Moyo, glo verbind word met renoster- en olifantstropery in Zimbabwe, Botswana, Namibië en Zambië. Dit terwyl hy tussen 2008 en 2017 minstens vyf keer in hegtenis geneem is vir oortredings waarvoor hy nog nooit aanspreeklikheid moes aanvaar nie.
In elke geval is hy sonder ’n klag teen hom vrygelaat, borg is aan hom toegestaan en hy kon wegkom weens prosedurele kwessies.
“Met 9 561 renosters wat oraloor Afrika gestroop is en 7,5 ton onwettige renosterhorings waarop die afgelope 10 jaar wêreldwyd beslag gelê is, het die omvang van die renosterkrisis nou waarskynlik enigiets wat in 2012 as doelwit gestel is, verduister,” lui die verslag.
Altesaam 63 renosters is tot dusver in Namibië gestroop teenoor die 44 wat verlede jaar doodgemaak is.
In 2020 is altesaam 42 renosters doodgemaak, terwyl 57 in 2019 gestroop is, vergeleke met 84 in 2018, 55 in 2017, 66 in 2016 en 97 in 2015.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie