Mopaniewurms nié binne Etosha te oes

Waarskuwing na honderde by park opdaag
Volgens inligting het meer as 200 persone glo met bakkies, trekkers met sleepwaens en selfs donkiekarre verlede week langs die Etosha Nasionale Park gekamp en daarvandaan die park betree om mopaniewurms te oes.
Elvira Hattingh
‘n Ernstige waarskuwing is die afgelope Woensdag deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme uitgereik aan lede van die publiek wat probeer om die Etosha Nasionale Park te betree om mopaniewurms (omaungu) te oes.

Minister Pohamba Shifeta het Woensdag, tydens die bekendstelling van die Drie dekades van bewaring-veldtog, die tweede nasionale geïntegreerde van die omgewingsverslag asook die 2021 nasionale verslag oor natuurlewebeskerming en wetstoepassing bevestig dat hy talle oproepe oor die voorval ontvang het.

Hy het bevestig beslag is op die wurms gelê en amptenare sal die wurms verwoes en bygevoeg dat die mense “gelukkig was om nie in hegtenis geneem te word nie.”

Volgens inligting het “honderde mense” glo met onder meer bakkies, trekkers en sleepwaens en selfs donkiekarre laat verlede week langs die Etosha Nasionale Park gekamp en daarvandaan die park betree om mopaniewurms te oes.

In ‘n mediaverklaring wat die ministerie later die dag uitgereik het, word lede van die publiek ernstig daarteen gewaarsku om die park te betree omdat dit tot hul inhegtenisname en lê van klagte teen hulle kan lei.

In die verklaring waarsku die ministeriële woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, dat gemeenskappe wat rondtrek om mopaniewurms binne bewaringsgebiede te oes, eers toestemming van owerhede moet kry.

Daar word gewaarsku dat die voorgesette oortreding van parkreëls en -regulasies die ministerie sal noop om die wet toe te pas.

“Die betreding van ‘n beskermde gebied of wildbewaringsgebied sonder ‘n permit van die ministerie, is onwettig . . .” Hy het bygevoeg die wet verbied verder die verwydering van enige fauna en flora binne die gebiede.

“Die betreding van mense belemmer nie slegs die parkreëls en die wet nie, maar plaas ook die lewens van gemeenskapslede op die spel. Ons nasionale parke het roofdiere wat moontlik die lewens van mense kan neem,” het hy gesê.

“Boonop beskik Etosha oor spesiaal beskermde spesies soos olifante en renosters en in die afgelope jare ervaar die park ‘n plaag van stropery. Daarom is die sekuriteit van die park op hoë gereedheid,” het hy gesê en bygevoeg hulle kan mense wat die wurms onwettig oes, as verdagtes of voornemende stropers beskou.

Op ‘n WhatsApp-groep vir ministeriële geleenthede, het die direkteur van bosbou, mnr. Johnson Ndokosho, gesê as dit by die oes van mopaniewurms kom, is die oorbenutting daarvan ‘n groeiende probleem.

“In die verlede is die wurms oraloor die noorde van die land gevind. Nou moet mense so ver as tot naby die Etosha Nasionale Park reis om hulle te kan oes. Selfs daar sal te veel van hulle geoes word . . . Om dit eenvoudig te stel, die oorbenutting van ‘n mot in die larwefase, sal die voortbestaan van daardie spesie bedreig,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer