N/a’ankuse benodig N$3,5 m. vir regsaksie teen ministerie
Begin geld insamel
Die stigting wil die regering hof toe sleep oor wette wat dierewelsyn in die land reguleer.
Regstappe wat die N/a’ankuse-stigting teen die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme wil neem, sal na raming US$200 000 kos (N$3,5 miljoen teen Vrydag se wisselkoers).
Die stigting wil die regering hof toe sleep oor wette wat dierewelsyn in die land reguleer.
Gevolglik is besluit om geld vir die regsaksie in te samel, met ’n insamelingsgeleentheid ten bate van dierewelsynswetgewing wat op 16 en 17 September in Brühl, Duitsland, sal plaasvind.
Die stigting se uitvoerende direkteur, me. Marlice van Vuuren, sal dan in Europa wees as deel van ’n promosietoer deur die Namibië Toerismeraad. Terwyl sy daar is, sal sy die gasspreker by dié insamelingsgeleentheid wees.
Haar man, dr. Rudie van Vuuren – die uitvoerende hoof van die N/a’ankuse-maatskappygroep – het gesê hul optrede het ten doel om duidelikheid by die hof te verkry oor sekere aspekte van die bestaande wetgewing.
Hy het gesê die Wet op Dierebeskerming no. 71 van 1962 dien as Namibië se primêre dierewelsynswetgewing en die doel daarvan is om wrede optrede teenoor diere te voorkom.
MISHANDELING
“Dieremishandeling kan verskillende vorme aanneem. Dit sluit in dade van geweld teenoor diere en diereverwaarlosing, of die versuim om voorsiening te maak vir die welsyn van ‘n dier onder ‘n mens se toesig.”
Hy het bygevoeg dieremishandeling is nie beperk tot fisieke leed nie.
“Om diere sielkundige skade te berokken in die vorm van uittarting of terreur kan ook neerkom op dieremishandeling.”
Van Vuuren het gesê ingevolge die wet is elke persoon wat versuim om op te tree en daardeur ’n dier se lyding veroorsaak, ook aan ‘n misdryf skuldig.
“Om dit anders te bewoord, is elke persoon verplig om ‘n dier in nood by te staan. Ongelukkig word die toepassing van die wet afgeskeep.”
Hy het gesê die Natuurbewaringsordonnansie 4 van 1975 is ‘n voorbeeld van wetgewing wat uit die tydperk voor onafhanklikwording dateer en steeds in Namibië toegepas en afgedwing word.
“Ongelukkig behels die ordonnansie en sy regulasies verskeie bepalings wat strydig met die Namibiese Grondwet is. Boonop skep die interpretasie wat die ministerie aan sekere bepalings in die ordonnansie en regulasies verleen, konflik tussen die bepalings van die ordonnansie en regulasies aan die een kant en die dierebeskermingswet aan die ander kant.”
Hy het gesê die ordonnansie maak nie voorsiening vir die beskerming van regte en vryhede wat ’n mens sou verwag om binne die wette van ‘n grondwetlike demokrasie te vind nie.
VEROUDERDE WETGEWING
“Die ordonnansie is ‘n verouderde stuk wetgewing. Een pertinente voorbeeld van hoe die ordonnansie in ons grondwetlike waardes faal, is dat dit nie voorsiening maak vir billike en redelike administratiewe optrede nie.
“Die ordonnansie bepaal dat jy nie redes hoef te gee vir ’n administratiewe besluit om ’n aansoek af te keur nie. Dit is duidelik in stryd met die bepalings van artikel 18 van die Grondwet en is, na my wete, voorheen as ongrondwetlik verklaar.
“Die ordonnansie, in sy huidige vorm, erken ook nie die noodsaaklike rol van private bewaringsentiteite in langtermynbewaringspogings in Namibië nie.”
Volgens Van Vuuren lei die huidige implementering van die ordonnansie tot ’n situasie waar mense wat poog om hul statutêre plig ingevolge die wet op dierebeskerming na te kom, moontlik strafregtelike vervolging ingevolge die ordonnansie in die gesig staar.
“Hierdie onsekerheid is tot nadeel van diere en vir Namibië as geheel.”
Hy het bygevoeg dat hulle reeds met insamelingspogings begin het en dat enige ondersteuning waardeer sal word. “Ons wag op die finale dokumente van ons advokate en prokureurs en sal dit dan indien.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie