Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, by die COP29-klimaatberaad in Baku, Azerbeidjan. Foto verskaf
Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, by die COP29-klimaatberaad in Baku, Azerbeidjan. Foto verskaf

Namibië eis vergoeding vir omgewingsmisdade

Minister woon die COP29-klimaatberaad by
Die minister van die omgewing het die COP29-beraad gevra vir klimaatfinansiering.
Ellanie Smit
Namibië het by vanjaar se COP29-klimaatberaad aangedring op regverdige vergoeding vir die skade wat aan die klimaat aangerig is deur diegene wat omgewingsmisdade gepleeg het.

“As geraakte lande wat niks bygedra het tot die oorsaak van aardverwarming nie, sal ons onvermoeid werk om geregtigheid in hierdie kwessie te soek,” het die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, gister gesê toe hy die land se amptelike verklaring gelewer het by die COP29-beraad wat in Baku, Azerbeidjan gehou word.

Hy meen dat die beraad aangebied word terwyl die wêreld verwoes word deur alle soorte rampe wat deur die klimaat meegebring is.

“In Namibië voel ons reeds die erns van hierdie gebeure," het hy gesê en bygevoeg dat die Namibiese regering ’n noodtoestand afgekondig het weens die droogte nadat die land die laagste reënval in meer as 60 jaar gehad het.

“As Namibië in so ’n noodtoestand is, wat van ander dele in die wêreld? Soos die Eilandstate wie se hele toekoms onseker is as ons aangaan soos ons nou aangaan. Wat van diegene wat hulself in konflik bevind, die gemarginaliseerdes en die armes wat leef van liefdadigheid?”

Volgens Shifeta het hulle vanjaar na die beraad gegaan met nuwe hoop vir antwoorde op die finansiering vir klimaatkwessies.

“Ons glo dat diegene wie se vrystelling van gasse tot aardverwarming bygedra het, verantwoordelikheid vir hul optrede sal neem en ontwikkelende lande sal vergoed. Nietemin, wat ons uit die afgelope week se onderhandelinge sien, is die teenoorgestelde van ons verwagtinge.”

Hy het gesê dit is nie nodig om te smeek vir diegene wat skade aangerig het om daarvoor te betaal nie, maar sê dat hulle eenvoudig vra dat ontwikkelde lande hul verbintenis tot die Verenigde Nasies (VN) se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering (UNFCCC) en die Parys-verdrag moet nakom.

Shifeta het gesê dat dit die enigste internasionale instrumente is wat hulle bymekaar hou vir die gemeenskaplike doel om ’n groener toekoms te skep.

“Ons kan onsself nie herhaal as ons vra vir ’n minimum van US$100 miljard per jaar as ’n nuwe gesamentlike gekwantifiseerde doelwit wanneer wetenskaplike verslae duidelik is oor wat gedoen moet word en die koste daaraan verbonde nie,” het hy gesê.

Shifeta het ook gesê dat dit algemeen aanvaar word dat finansiering vir klimaatkwessies die grondslag sal lê vir die bou van paaie na ’n groener toekoms, tog stel ontwikkelde lande uit om hul verbintenis na te kom.

“Ons moet nou optree, hier in Baku, om ’n ambisieuse doelwit vir die finansiering van klimaatkwessies te stel. ’n Doelwit wat ’n groener wêreld op ’n regverdige manier moontlik maak."

Die COP29-beraad sal na verwagting Vrydag tot ’n einde loop.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!