Minister Pohamba Shifeta in die voorgrond, met Namibië se minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, wat direk agter hom sit. FOTO VERSKAF
Minister Pohamba Shifeta in die voorgrond, met Namibië se minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, wat direk agter hom sit. FOTO VERSKAF

Namibië ervaar drie droogtes in ses jaar

VN-konvensie takel verwoestyning
Wêreldleiers het die afgelope week in Ivoorkus planne teen die agteruitgang van grond en groeiende woestyne beraam.
Elvira Hattingh
“Oor die afgelope ses jaar het Namibië drie verwoestende droogtes ervaar – een hiervan het die rekordboeke vir die ergste droogte in 100 jaar gehaal.

“Sedert die land se onafhanklikwording was daar minstens 12 jaar waartydens die helfte van die land ondergemiddelde reën gehad het, wat droogtes asook grondagteruitgang tot gevolg gehad het.

“In dié jare het talle boere hul vee verloor en boonop swak gewas-oeste gehad.”

Só het pres. Hage Geingob sy toespraak die afgelope Dinsdag by die 15de konferensie van partye (COP15) by die Verenigde Nasies (VN) se konvensie vir die bestryding van verwoestyning ingelei.

“Soms word die droogtes deur vloede opgevolg, wat ons voedselsekuriteit en die voortbestaan van boeregemeenskappe bedreig. Daarom is grondagteruitgang en verwoestyning, wat deur klimaatsverandering vererger word, ʼn bron van kommer vir Namibië,” het hy tydens die geleentheid gesê, wat in Abidjan, die ekonomiese hoofstad van Ivoorkus, plaasgevind het.

“Sowat 30% van Namibië se oppervlakte word reeds deur twee woestyne in beslag geneem, terwyl die land een van die droogste in Afrika suid van die Sahara is. Ongeveer 92% van die land word as semi-droog tot dor beskou.

“Hierdie werklikheid plaas ʼn enorme verantwoordelikheid op ons om beleide te bevorder wat op die bestryding van verwoestyning, asook die bevordering van die herstel van grond fokus. Dit moet deel van ons volhoubare landboubedrywighede asook ons strategie vir voedselsekuriteit vorm,” het hy bygevoeg.

Geingob het gesê juis om hierdie rede was Namibië nog altyd ʼn deelnemer aan verrigtinge deur die VN se konvensie vir die bestryding van verwoestyning (UNCCD).

VROUE LY

“Ek kan nie genoeg beklemtoon dat vroue die meeste daaronder ly as dit by verwoestyning, droogte en die agteruitgang van grond kom nie – veral in landelike gebiede. Daarom is die bemagtiging van vroue in droogtegeteisterde gebiede noodsaaklik,” het Geingob gesê en bygevoeg die sogenaamde African Great Green Wall-projek in die Sahel kan dalk broodnodige antwoorde teen verwoestyning bied.

“Die projek kan as ʼn model dien wat uitgebrei en in ander streke uitgerol kan word, waar soortgelyke ekologiese toestande voorkom.”

Hy het ook voorgestel dat die UNCCD-sekretariaat die lewensvatbaarheid van só ʼn program in hierdie gebiede verken.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het tydens die geleentheid gesê Namibië het reeds die derde nasionale aksieprogram (NAP III) van die UNCCD aangeneem en “ambisieuse doelwitte” ontwikkel om verwoestyning, die agteruitgang van grond en droogtes in die vorm van die tweede nasionale strategiese aksieplan vir nasionale biodiversiteit (NBSAP II) te takel.

DOELSTELLINGS

Shifeta het bygevoeg Namibië was reeds in 2014 een van die min lande wat die Program vir die Teikenstellling vir Grondagteruitgang-neutraliteit aangeneem het en doelwitte ingevolge hiervan gestel het.

“Hierdie doelwitte behels onder meer dat daar teen 2030 tot 40 000 ha se woude hervestig moet word en hul produktiwiteit herstel moet word waar dit reeds agteruitgang toon, asook om die produktiwiteit van tot 10 miljoen ha bosse en weivelde teen 2040 te herstel.

“Verder behels dit die vermindering van indringerbos oor 'n gebied van 2 miljoen hektaar teen 2040 asook die handhawing van organiese koolstof in die grond, tot ná 2040. . .

“Ek wil herhaal dat hierdie teikens in pas is met ons biodiversiteitsplan, as deel van nasionale pogings om nie net grondagteruitgang te beveg nie, maar ook tot die bekamping van klimaatsverandering en biodiversiteitsverlies in Namibië by te dra,” het hy gesê.

Shifeta meen een van die sleuteloorsake van die agteruitgang van grond in Namibië is hoë vlakke van armoede in landelike gebiede, ʼn gebrek aan kapasiteit deur instansies of individue, swak finansiering vir die volhoubare bestuur van grond asook die onvoldoende toepassing van tegnologie as dit by droëland-produksiemetodes en herhalende droogtes kom.

Hy meen van die kwessies kan getakel word deur gemeenskappe te betrek by besluitnemingsprosesse om grond te herstel. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!