Namibië se ‘middelman’ in olifantveiling

Die storie van mnr. Gerrie Odendaal en die goedkoop olifante
Twee-en-twintig olifante is in 'n transaksie van net minder as N$50 miljoen verkoop – waaruit die regering N$3,3 miljoen gemaak het.
Ellanie Smit
Tussenhandelaars het ‘n “fees” op die onlangse olifantveiling gehad, waar sommige die grootvoete vir ’n appel en ’n ei gekoop het en daarna vir miljoene op internasionale markte verkoop het.

Dit volgens ’n onlangse ondersoek deur ons susterkoerant Namibian Sun.

Niks kon hulle immers keer om die rol van spekulante te speel nie, aangesien die regering geen voorwaardes gestel het vir die veiling waarop die olifante in Desember 2020 verkoop is nie. Al wat die staat wou hê, was ‘n minimum bedrag van N$75 000 per olifant.

Een van dié spekulante is die bekende eienaar van Go Hunt Safaris, mnr. Gerrie Odendaal, wie se plaas in die Gobabis-omgewing geleë is.

Odendaal het N$3,3 miljoen betaal vir 22 olifante.

Skaars ses maande nadat hy die grootvoete gekry het, het hy dit deur die omstrede internasionale wildhandelaar, me. Elske Burger (Luus), aan die olieryke Verenigde Arabiese Emirate (VAE) verkoop.

Die hele transaksie, het Namibian Sun verneem, het net minder as N$50 miljoen beloop.

Die olifante se eindbestemmings was die Al Ain-dieretuin – ‘n dierereservaat van 400 hektaar wat aan die voetheuwels van Jebel Hafeet in Al Ain, Abu Dhabi, geleë is – en die Sharjah-safaripark van 800 hektaar, wat beweer hulle is die grootste safaripark buite Afrika. Laagenoemde het 12 gebiede wat die lewe en terrein in Afrika naboots. Die gebied wat vir olifante geskep is, word Nigervallei genoem.

Die wêreldvereniging vir dieretuine en akwariums (Waza), waarvan die Al Ain-dieretuin ‘n lid is, het die transaksie veroordeel en gesê sy etiese kode is nie nagekom nie en het belowe om die VAE-instelling te beboet.

HELE PAKKET

Mnr. Karl Ammann, die internasionaal erkende bewaringsaktivis, fotograaf en wildmisdaadondersoeker wat ook dié transaksie ondersoek, het aan Namibian Sun bevestig Burger was die fasiliteerder daaragter.

As deel van sy ondersoek het Ammann verlede week albei dieretuine besoek voordat die olifante by die geriewe opgedaag het.

Ammann het gesê die N$50 miljoen was vir die “hele pakket”, wat vervoerkoste van die Ilyushin Il-76-vragvlug van Namibië na die VAE ingesluit het. Dit het hy glo deur baie betroubare bronne vasgestel.

Die vlug het in die nagtelike ure van 5 Maart die Internasionale Lughawe Hosea Kutako verlaat, met Burger glo ook aan boord, en het die volgende dag veilig in die VAE geland.

Intussen is Odendaal, volgens Amman, baie goed betaal en het ’n aandeel van US$950 000 (N$14,37 miljoen teen verlede week se wisselkoers) ontvang.

Beide Odendaal en Burger het geweier om kommentaar te lewer, met Odendaal wat gesê het die transaksie is “privaat en vertroulik”.

“Ek weier, met respek, enige onderhoude of antwoorde aan die media nou en in die toekoms,” het hy gesê. Hy wou ook nie verklap watter rol Burger in die transaksie gespeel het nie.

Intussen het die Zimbabwiese park- en natuurlewebestuursowerheid ‘n lys van olifantverkope sedert 2016 vrygestel. Op dié lys word die inkomste wat uit olifantverkope verdien is verklaar, asook waaraan die geld bestee is. Dit het ook individue geïdentifiseer wat by dié transaksies betrokke was. Volgens die lys was Burger betrokke by ’n transaksie in 2018, ook na die VAE.

PRIVAAT

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme voer aan hy het geen rol in die internasionale transaksie gespeel nie, behalwe om die nodige vervoerdokumentasie te verskaf.

Die ministerie se uitvoerende direkteur, mnr. Teofilus Nghitila, het gesê die regering se verantwoordelikheid was slegs om die nodige permitte vir die uitvoer van die olifante te bekom.

Die regering blyk ook ongeërg te wees oor die potensiële miljoene wat hulle kón verdien het as hulle die diere op die internasionale mark verkoop het.

“Ek wil in hierdie geval duidelik maak dat die uitvoer van hierdie olifante ‘n private transaksie tussen die private eienaar van die olifante en sy kliënte in die VAE was.

“Die ministerie het geen belang in hierdie transaksie gehad nie, behalwe om die nodige permitte volgens die eienaar se aansoek te verskaf,” het Nghitila gesê.

Dit volg op die veiling van 170 olifante waarin 57 olifante aan drie bieërs verkoop is.

Kommer is deurgaans uitgespreek oor die feit dat Namibië sy olifante vir te min aan die bieërs verkoop het, maar Nghitila het nie daarop ag geslaan nie.

Hy het daarop gewys dat die bedrae wat die bieërs vir olifante betaal het, nie die koste ingesluit het wat verband hou met die vang, vervoer of versorging van die olifante nie en dat die kopers vir al dié koste verantwoordelik is.

KLEINGELD

"Sommige mense mag dalk sê ons het min geld ontvang, maar die duurste deel kom wanneer die olifante gevang, vevoer en daarna versorg moet word.”

Vrae is ook geopper oor waarom Namibië hierdie “middelmanne” gebruik pleks daarvan om die diere direk aan die dieretuine in die VAE te verkoop.

Hierop het Nghitila geantwoord dat die bieproses oop is vir almal.

“Ons sal nie weet as jy namens enigiemand bie nie. As jou bod aan die vereistes voldoen, kan jy as ‘n suksesvolle bieër beskou word. Daar is streng vereistes. Eerstens moet jy die uitvoerpermitte bekom. Die meeste van die bieërs het versuim om dit te doen. Jy het dalk ‘n goeie aanbod, maar jy het nie ‘n permit na die land waarheen jy wil uitvoer nie. So, dit kan regtig ’n probleem word,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!