Die groep wat in Namibië aan die Bioblitz-projek in die Zambezistreek deelgeneem het, Foto Verskaf
Die groep wat in Namibië aan die Bioblitz-projek in die Zambezistreek deelgeneem het, Foto Verskaf

Namibië tiende in Bioblitz-projek

Deelnemers regoor die suidelike halfrond
Die Bioblitz-projek beoog om openbare betrokkenheid by die natuur bevorder en 'n ryk hulpbron van spesieverspreiding in die wêreld te voorsien.
Kristien Kruger
Namibië het 'n 10e plek in die gewilde Great Southern Bioblitz-projek behaal. Die projek behels die identifikasie van alle lewende organismes binne 'n aangewese gebied binne vier dae.

Byna 140 projekte is in die Suidelike Halfrond geregistreer en meer as 20 lande het aan die projek deelgeneem. Suider-Afrika het 37 projekte van stapel gestuur en Namibië het sesde in dié afdeling geëindig.

Volgens ’n mediaverklaring van die Gobabeb Namib Research Institute wat Namibië se projek georganiseer het, het Namibië verskeie spanne gehad wat oor die Zambezistreek versprei was. Die opdrag was om meer as 5 400 waarnemings van meer as 'n 1 000 spesies, plante en diere aan te teken.

Waarnemers het al hul bevindings op die toep iNaturalist aangeteken.

“Die toep help gebruikers om foto's te laai en hulp van honderde kundiges en vrywilligers van oraloor in die wêreld te ontvang om spesies te identifiseer,” lui die verklaring.

SPANWERK

Die Gobabeb-span het saam met studente in natuurlewebestuur- en ekotoerisme aan die Universiteit van Namibië (UNAM) asook plaaslike skole gewerk.

“Om aan die Bioblitz-projek deel te neem, was 'n ongelooflike ervaring. Dit het my laat besef ons deelname as Namibiese jeug is van kritieke belang. Hierdie ontmoetings leer ons nie net van die geweldige diversiteit van die lewe nie, maar skep ook 'n begeerte by ons om ons ekosisteme te bewaar,” het een van die Unam-studente, Punaete Kandjii, gesê.

Benewens die opname van spesies, het die Gobabeb- en UNAM-spanne opvoedingsessies in biodiversiteit aan 200 leerders van vyf skole in Katima Mulilo gegee.

“Die Bioblitz was vir ons 'n ongelooflike reis na die natuur, vir die natuur. Ons leerders het baie pret gehad en indrukwekkende entoesiasme getoon. Ons het baie geleer en besef dat daar nog soveel is om te leer,” het die skoolhoof van Wild Kids Academy, dr. Laura Erculei, gesê.

Die projek is plaaslik ook ondersteun deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram en die Duitse Agentskap vir Internasionale Samewerking. Toegang tot die nasionale parke is verkry deur toestemming van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme.

RYK HULPBRON

Die jaarlikse Great Southern Bioblitz-geleentheid het nou volgens die verklaring gegroei om navorsingsinstellings, universiteite, munisipaliteite, gemeenskappe, belangegroepe en natuurkundiges oor drie kontinente in die Suidelike Halfrond in te sluit.

Die wenner van die projek was Overstrand in die Wes-Kaap in Suid-Afrika. Dié span het amper 15 000 waarnemings en meer as 2 000 bevestigde spesies aangeteken

“Die Bioblitz-projek beklemtoon die merkwaardige biodiversiteit van regoor die wêreld, terwyl dit openbare betrokkenheid by die natuur bevorder. Dit help om wetenskaplikes van 'n ryk hulpbron te voorsien om spesieverspreiding in die wêreld te verstaan.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 21° | 33° Oshakati: 21° | 32° Ruacana: 22° | 29° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 21° | 30° Gobabis: 19° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 23° Rehoboth: 24° | 33° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 26° | 38° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 21° | 30° Cape Town: 20° | 30° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 30° Harare: 18° | 27° #REF! #REF!