Die Internasionale Geregshof in Den Haag. Foto ICJ
Die Internasionale Geregshof in Den Haag. Foto ICJ

Namibië sluit aan by saak oor klimaatkrisis

Ontwikkelende lande verenig
In 'n geskiedkundige internasionale hofsaak in Den Haag word aanspreeklikheid geëis van nasies wat die meeste verantwoordelik is vir die klimaatkrisis.
Ellanie Smit
Namibië het Maandag die Internasionale Geregshof (Wêreldhof) versoek om te beslis dat die verpligtinge van lande wat histories en tans die meeste verantwoordelik is vir die klimaatkrisis wetlik bindend moet word.

Namibië het sy argumente in Den Haag, Nederland, gelewer in wat beskryf word as die grootste saak ooit in dié hof se geskiedenis.

Die saak betrek byna 100 lande, insluitend Namibië, en word deur 15 regters aangehoor.

’n Groep klein eilandlande in die Suidelike Stille Oseaan onder leiding van Vanuatu het die internasionale regspoging gelei om die wêreld se hoogste hof te kry om die lande met groot kweekhuisgasvrystellings aanspreeklik te hou omdat hulle nie klimaatsverandering takel nie.

“Ons bevind onsself op die voorste linies van ’n krisis wat ons nie geskep het nie, ’n krisis wat ons bestaan bedreig,” het Ralph Regenvanu, Vanuatu se spesiale gesant vir klimaatsverandering en die omgewing, aan die hof gesê.

Die eilandlande voer aan dat net ’n paar lande verantwoordelik is vir die “oorgrote meerderheid” van geskiedkundige en huidige kweekhuisgasvrystellings, terwyl nasies wat baie min vrystel, die grootste deel van die gevolge in die gesig staar.

Hulle soek die hof se regsmening oor twee vrae: Wat is die verpligtinge van regerings ingevolge internasionale reg om die planeet se klimaatstelsel en omgewing te beskerm? En wat is die wetlike gevolge vir lande wat aansienlike skade aan die klimaat, die omgewing en mense veroorsaak het?

Die verhore het begin ’n week nadat ontwikkelende lande die uitslag van die COP29-beraad in Azerbeidjan, waar ryker lande ooreengekom het om teen 2035 jaarlikse klimaatfinansiering van US$300 miljard te voorsien, as klaaglik onvoldoende veroordeel om armer lande te help om klimaatsverandering die hoof te bied.



WETENSKAP ‘ONMISKENBAAR’

Namibië was aktief betrokke by hierdie verrigtinge en het sy skriftelike verklaring in Maart en skriftelike kommentaar op 14 Augustus suksesvol ingedien.

Die laaste stap in hierdie verrigtinge was dat lande mondelinge verhore aanbied wat van 2 tot 13 Desember geskeduleer is. Die ministerie van justisie het bevestig dat die kabinet Namibië se deelname goedgekeur het.

Namibië se ambassadeur in België en die Europese Unie (EU), dr. Mekondjo Kaapanda-Girnus, het die inleidende verklaring namens die land gelewer.

“Die wetenskap is onmiskenbaar. Kweekhuisgasse veroorsaak stygende temperature en groter verdamping, wat waterbronne tot hul uiterste beproef terwyl droogtes vererger,” het Kaapanda-Girnus gesê.

Sy het benadruk dat vir elke temperatuurstyging van 1 grade Celsius, kan waterbronne met 20% verminder.

Kaapanda-Girnus het beklemtoon dat die drempel van die globale temperatuurstyging tot 1,5 grade Celsius, eerder as 2,5 grade vir Namibië noodsaaklik is vir oorlewing.

“Namibië is reeds die droogste land in Afrika suid van die Sahara en word steeds droër,” het sy gesê.



MENSEREGTEKWESSIE

Sy het bygevoeg dat uiterste droogtes Namibië sedert 2016 gedwing het om verskeie noodtoestande af te kondig, die jongste onlangs in Mei.

Kaapanda-Girnus het beklemtoon dat tensy daar nou opgetree word, Namibië heeltemal dor sal word en ’n permanente klimatologiese toestand sal binnegaan waarin droogtes ’n gereelde verskynsel sal word.

“Namibië staan ook voor julle om die menseregte van Namibiese mense in die hede en toekoms te beskerm,” het sy aan die hof gesê.

Kaapanda-Girnus het gesê weens die voortslepende droogte staar byna die helfte van Namibië se bevolking hoë vlakke van akute voedselonsekerheid in die gesig.

“Die verlies aan waterbronne is dus nie net ’n omgewingskwessie nie; dis ’n menseregtekwessie wat Namibië se bestaan en veral die lewens en lewensbestaan van ons mense bedreig.”

Die ambassadeur het aan die hof gesê Namibië staan voor die hof in solidariteit met ander ontwikkelende Afrikalande en klein eilandstate.

“Gesamentlik is ons een van die laagste vrystellers van kweekhuisgasse. Tog rig klimaatsverandering buitensporige skade aan ons omgewing, menseregte, ontwikkeling en toekomstige geslagte aan.”

Kaapanda-Girnus het gesê ontwikkelde lande moet finansiële steun bied om ontwikkelende lande te help om na skoner energiebronne oor te skakel sonder om hul ontwikkeling te belemmer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer