Die ongebruikte pier by Hottentotsbaai is belangrik in terme van beskerming van biodiversiteit. Foto Jan-Antonie Delport
Die ongebruikte pier by Hottentotsbaai is belangrik in terme van beskerming van biodiversiteit. Foto Jan-Antonie Delport

Nog ʼn lisensie goedgekeur vir diepsee-mynbou

Augetto Graig
Die mynmaatskappy LK Mining het toestemming van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme verkry om diamante op die seebodem by Hottentotsbaai, sowat 60 km noord van Lüderitz, met mynlisensie ML220, te begin myn.

Die omgewingskenner, me. Alexandra Speiser van A. Speiser Environmental Consultants (ASEC), het Woensdag aan belangstellende partye gesê die ministerie het ’n omgewingsklaringsertifikaat aan LK Mining uitgereik.

Sy sê die dokument is Dinsdag aan die mynmaatskappy afgelewer.

Mnr. Lazarus Jacobs, LK Mining se direkteur, het op navraag gesê dit is ou nuus. Hy het verdere navrae na die maatskappy se bedryfshoof, mnr. Carel Neethling, verwys.

Neethling het jare se ondervinding en is ʼn bekende naam in Namibië en Suid-Afrika se diamantmynboukringe. Op navraag het hy egter gesê hy sal eers ’n mandaat van die maatskappy se direkteure moet verkry voordat hy enige vrae kan beantwoord.

Die toekenning van die sertifikaat volg na ’n lang proses wat in April 2021 in die openbare domein bekend geword het.

Dit het gevolg nadat LK Mining eksplorasieaktiwiteite tussen 2016 en 2019 uitgevoer het. Die mynlisensie strek vanaf die kus tot 2 km in die see in - tot op ’n diepte van sowat 45 m - en strek langs die kus oor ’n afstand van 6 km. ML220 beslaan ’n oppervlakte van 42,3 km² en die gebied val binne Namibië se eilande en mariene bewaringsgebied (Nimpa).

Neglectus-eiland en die ongebruikte pier (aanlêsteier) by Hottentotsbaai word geraak, aangesien dit belangrike broeiplekke vir Afrika-pikkewyne sowel as verskillende kormorantspesies is, met spesiale beskerming onder Nimpa.

Die voorgestelde myngebied oorvleuel met die aanbevole - maar steeds ongeproklameerde – bewaringsgebied wat glo biodiversiteitsbeskerming aan Neglectus-eiland en die pier bied.

LK Mining beplan om ’n toevoerskip te koop en dit in ’n mynbouvaartuig te omskep wat in waterdieptes van tussen 14 m tot 40 m sal kan werk.

Mynboubedrywighede sal die verwydering van slegs die sagte sediment onder die see-oppervlak behels. Die selfstandige mynvaartuig sal sy eie verwerkingsaanleg aan boord hê.

Die bemanning sal uit 14 lede bestaan, volgens planne wat LK Mining verlede jaar met belanghebbers gedeel het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!