Pohamba Shifeta, minister van die omgewing en tourisme. Foto Ellanie Smit
Pohamba Shifeta, minister van die omgewing en tourisme. Foto Ellanie Smit

Nuwe planne nodig in stryd teen wildmisdaad

Herorganisasie dringend nodig
Wildmisdaadsindikate pas hul metodes voortdurend aan, sê minister Pohamba Shifeta.
Ellanie Smit
Namibië moet sy gekombineerde wildmisdaadmagte dringend herorganiseer en operasionele strategieë verander.

“Die onlangse ontdekking van 11 renosterkarkasse in die Etosha Nasionale Park en die onwettige houtbedryf op kleinskaalse plase in Kavango-Oos, is ’n aanduiding dat ons ons pogings moet verskerp,” het mnr. Pohamba Shifeta, minister van die omgewing, bosbou en toerisme, gesê.

Hy het gesê die vraag na spesifieke spesies is besig om te verander en misdaadsindikate pas hul metodes voortdurend aan.

“Terwyl ons in een gebied wen, kan ons dalk in ’n ander een verloor sonder om eens bewus daarvan te wees. Daarom vereis dit volgehoue waaksaamheid, buigsaamheid in teenmaatreëls, die gebruik van nuwe tegnologieë en verhoogde samewerking om die dinamiese bedreiging van onwettige wildhandel en -stropery te takel wat ons waardevolle natuurlike hulpbronne plunder, het Shifeta gesê.

Hy was aan die woord by die Nasionale Belanghebbendesforum vir Wildbeskerming en Wetstoepassing wat in Windhoek gehou is.

Hy het gesê Namibië het die afgelope dekade ’n reuse-oplewing in wildmisdaad beleef, wat deur ’n groter wêreldwye vraag na onwettige wildprodukte gedryf is.

Hy sê die handel in wild het ’n multimiljarddollar kriminele bedryf geword wat in veel meer as net ’n bewaringskwessie ontaard het.

“Omgewingsmisdaad het ontplof en het die vierde grootste kriminele sektor wêreldwyd geword, ná dwelmhandel, vervalsing en mensehandel.”

Volgens Shifeta bevorder die betrokkenheid van georganiseerde misdaad by stropery en handel in wild korrupsie, bedreig vrede en nasionale veiligheid en brei onwettige handelsroetes uit.

Hy het gesê dit hou nie net ’n gevaar vir mense in nie, maar destabiliseer ook die ekonomie en die lewensbestaan van landelike gemeenskappe wat afhanklik van wild is.

“Ons het ’n beduidende aantal renosters, olifante, ietermago’s en ander wild verloor, maar die verliese het ’n baie groter impak.”

Shifeta het gesê die regering, internasionale en plaaslike finansieringsagentskappe en NRO’s, die private sektor en plaaslike gemeenskappe het onmeetbare hulpbronne gebruik om hierdie plaag te beveg.

Hy het gesê dié hulpbronne kon aan nasionale ontwikkelingsbehoeftes bestee word, “maar ons word gedwing om dit te gebruik om wildmisdaad te bekamp om ons natuurlike erfenis te beskerm.”

Terwyl renoster- en olifantstropery tussen 2014 en 2016 ’n hoogtepunt bereik het, het die handel in ietermago’s vanaf 2014 vinnig gestyg.

Ander spesies, insluitend groot katte en reptiele, plante en houtspesies, word toenemend geteiken.

“Die georganiseerde stropery van vleis het ’n saak van ernstige kommer geword en maak tans meer as 50% van alle wildmisdaad in Namibië uit.”

Advokaat Jatiel Mudamburi, hoof van die eenheid vir omgewingsmisdade in die aanklaer-generaal se kantoor, het saamgestem dat wildmisdaad in Namibië ’n ernstige probleem geword het wat die land se nasionale erfenis bedreig en die omgewing beskadig.

“Daarom is dit net tot ons voordeel dat ons ons koppe bymekaarsit as belanghebbendes in die stryd teen wildmisdaad om hierdie plaag sonder vrees of guns aan te pak.”

Hy het gesê terwyl misdadigers aanhou om hul metodes en taktiek om wildmisdade te pleeg gedurig verander, moet belanghebbendes ook dieselfde doen in pogings om hierdie bedreigings hok te slaan.

Hy het dus ’n beroep op groter inter-agentskapsamewerking onder belanghebbendes gedoen om Namibië se wild te beskerm. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer