OCN red meer as 680 robbe

Visnette, -lyne steeds 'n bedreiging
Minder massavrektes onder Namibië se robkolonies is glo 'n aanduiding dat dié diere floreer.
Iréne-Mari van der Walt
Ná kommerwekkende massavrektes onder plaaslike robkolonies in 2020 – wat verlede jaar bykans halveer het – sê Naude Dreyer van Ocean Conservation Namibia (OCN) die land se robbe is tans in ’n goeie kondisie.

“Die algehele gesondheid van die robkolonies is ongelooflik goed. Vanjaar was daar amper geen massavrektes in vergelyking met verlede jaar toe omtrent 5 000 robbe gevrek het en die jaar daarvoor se omtrent 10 000 tot 12 000 vrektes nie. Ek dink nie ek het al ooit so baie robbe by Pelikaanpunt gesien nie. Daar is tans sowat 80 000 tot 90 000 robbe,” het hy gesê.

Hoewel dit blyk dat daar min rede tot kommer is, sê Dreyer dat kommersiële visnette steeds ’n bedreiging inhou.

“Kommersiële visnette soos snoeknette is een van die grootste probleme. Vislyne wat vir ontspanningshengel gebruik word en die bandjies wat gebruik word om aas te verpak, is ook ’n groot probleem," het hy gesê.

Tot dusver het die OCN-span net meer as 680 robbe bevry wat in seerommel verstrengel was. Dit is ’n verbetering op die geskatte 600 robbe wat in 2021 bevry is.

“Dit is wel goed vir die diere dat ons meer robbe bevry het, maar dit dien ook as ’n aanduiding dat die probleem vererger,” het Dreyer gesê.

Die meerderheid robbe wat die OCN bevry het, was glo welpies (jonger as een jaar), maar Dreyer meen hierdie syfers het ook sedert 2021 afgeneem.

“Van die 680 was omtrent 450 welpies; dit is omtrent ֽ’n kwart minder as verlede jaar,” het hy gesê.

Dreyer sê hulle beplan om in die nuwe jaar ou oesternette te verwyder.

“In die nuwejaar wil ons begin met ’n veldtog om ongebruikte oesternette te laat verwyder. Drie walvisse het vanjaar in oesternette verstrengel geraak,” het hy gesê.

Volgens Dreyer is een van die walvisse verstrengel in oesternette naby Donkiebaai gevind.

“Ons het die jong boggelrugwalvis gesien en nie veel daarvan gedink nie. Ons kon sien die walvis was dood, maar ons het gedink hy dryf net verby. Toe ons twee weke later weer die walvis by dieselfde plek teëkom, het ons dit van nader bekyk en gesien dat hy in toue en oesternette verstrengel was,” het Dreyer gesê.

Die OCN beplan ook om in die nuwe jaar meer tyd aan openbare bewusmakingsveldtogte te bestee.

“Ons kyk hoofsaaklik na die jeug en wil graag opvoedkundige programme aanbied en na skole uitreik. Ons wil selfs waterveiligheid en bewusmaking vir die belang van mariene ekosisteme insluit.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!