Een van ReconAfrica se proefboorpersele in Namibië se noordelike Kavango streke.
Foto twitter.com/ReconReporter
Een van ReconAfrica se proefboorpersele in Namibië se noordelike Kavango streke. Foto twitter.com/ReconReporter

Oliemaatskappy vat kortpad

Staande komitee berispe ReconAfrica
Oudminister Tjekero Tweya noem slinkse maniere waarop ReconAfrica te werk gegaan het, maar ook Kavango-inwoners se steun vir ontwikkeling.
Augetto Graig
Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) sal boetes moet betaal weens die verontagsaming van Namibiese wette en prosedures gedurende hul olie-eksplorasie in die Kavangostreke sedert Januarie 2021.

Dié Kanadese maatskappy kan tot N$4 000 beboet word vir die oortreding van die Wet op Kommunale Grondhervormings nr. 5 van 2022. Die boete vir die boor van gate sonder die nodige permitte ingevolge die Wet op Hulpbronbestuur van 2013 sal die betrokke minister nog moet vasstel.

Dit was van die aanbevelings wat mnr. Tjekero Tweya, parlementslid en voorsitter van die parlementêre staande komitee oor natuurlike hulpbronne, voorgelees het.

Die komitee se aanbevelings is in ’n indiepte verslag ingesluit wat op ’n ondersoek van ReconAfrica se oliesoektog in die Kavango volg.

Die oudminister het verwys na die maatskappy se verontagsaming van Namibiese wette en regulasies, twyfelagtige praktyke, en dat dit nie tot voordeel van die staat is terwyl aandeelwaarde uit Namibiese hulpbronne gegenereer word nie.

“Gebaseer op die waarde van hul aandele op die aandelebeurs, genereer hulle ’n inkomste deur Namibië se hulpbronne te gebruik,” het Tweya gesê.

Intussen geneneer die staatsonderneming Namcor se 10%-aandeel in dié eksplorasieprojek geen inkomste vir die staatskas nie.

Tweya het gesê ReconAfrica se aandele was in Januarie 2015 US$0.06 per aandeel, en die maatskappy was slegs US$ 9,6 miljoen werd.

Teen Julie vanjaar is die gesamentlike waarde van ReconAfrica se aandele US$1,7 miljard, sê Tweya.

Namcor se 10%-aandeel sal eers na produksie dividende verdien, as daar ooit olie in kommersieel haalbare hoeveelhede gevind word. Tot dan is die ooreenkoms tussen ReconAfrica en Namcor bloot ’n papieroefening, sê hy.

Tweya en die 28 lede van die komitee het besoek by proefboorgate op verafgeleë persele afgelê, betrokke gemeenskappe geraadpleeg, landelike owerhede en amptenare van betrokke ministeries genader, en die maatskappy vir bewysstukke gevra.

Die komitee kon volgens hom vasstel dat ReconAfrica reeds in Januarie 2021 met hul bedrywighede begin het, maar eers in Maart die eerste toestemming vanaf die betrokke tradisionele owerhede verkry het.

“Die goedkeuringsbriewe was ’n nagedagte vir ReconAfrica,” volgens Tweya.

Verder kla die hoofmanne dat die regering reeds eksplorasie goedgekeur het, nog voor betrokke inwoners en gemeenskappe geraadpleeg is.

Die maatskappy is nooit toegelaat om hidrobreking in Namibië te onderneem nie; ’n plan wat ReconAfrica later ontken het.

ReconAfrica het wel boorgate sonder wettige permitte geboor, lank voor permitte in Junie 2021 verkry is.

Die maatskappy het ook paaie gebou terwyl sy omgewingsbestuursplan nie voorsiening daarvoor gemaak het nie. Die omgewingsbestuursplan is ook nie aan belanghebbers beskikbaar gestel nie.

Ten minste een betrokke familie het die howe genader om hul geskende grondregte te beskerm. ReconAfrica het grond in gebruik geneem sonder enige geldige huurkontrakte, en ooreenkomste om eienaars te vergoed vir toegang tot hul mahanguvelde, is nooit nagekom nie.

“Die vraag is wie het goedkeuring gegee dat ReconAfrica mag voortgaan ondanks die feit dat wetlike vereistes, soos die verkryging van toestemming, waterpermitte en huurkontrakte, nie nagekom is nie? Die komitee kon nie vasstel wie die opdrag gegee het om voort te gaan nie. Nie ReconAfrica of die genaderde regeringskantore, ministeries en agentskappe wou die inligting deel nie,” het Tweya gesê.

Die ondersoek is van stapel gestuur as gevolg van drie versoekskrifte waarin die Save The Kavango’s Unique Lifestyle, Fridays for Future Windhoek en 52 burgerlike organisasies aandring dat ’n verbod op hidrobreking geplaas word; op die bewaring van waterbronne; en op die opskorting van olie-eksplorasie in die Okavango-delta.

Die komitee het bevind dat ReconAfrica nie in die sensitiewe Okavango-delta boor nie en het nie aangeraai dat hul oliesoektog stopgesit word nie.

ReconAfrica het reeds US$40 miljoen daarop bestee, US$14,3 miljoen daarvan binne Namibië, waarvan sowat N$25 miljoen na die staatskas gevloei het.

Hulle het boorgate vir verskeie gemeenskappe geboor en het glo meer as 500 werksgeleenthede in die twee Kavangostreke geskep, volgens die verslag.

“Die meerderheid tradisionele owerhede is gretig vir die ontwikkeling en inkomste wat sal volg as die maatskappy wel olie ontdek,” het Tweya gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!