Otjikoto-meer is vol

Henriette Lamprecht
Nie net het die afgelope weke se goeie en deurdringende neerslae in die noorde van die land reuse-verligting vir boere gebring nie, maar ook daartoe gelei dat die walle van ’n erfenisterrein oorstroom het.

Die Otjikoto-meer, wat sowat 20 km noordwes van Tsumeb geleë is, het danksy die swaar neerslae vir die eerste keer in byna vyf dekades sy versadigingspunt bereik.

Die meer, wat in 1972 deur die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede van Suid-Afrika as ’n nasionale monument verklaar is, is ook een van Namibië se erfenisgebiede, met dié natuurwonder wat ook ’n gewilde toeristeaantreklikheid is.

Die Otjikoto-meer is volgens die Erfenisraad van Namibië gevorm deur ’n karstproses waartydens die plafon van ’n grot ineengestort het.

Karst is ’n topografie wat gevorm word uit die oplossing van oplosbare karbonaatgesteentes soos kalksteen en dolomiet.

In 1851 het Charles Andersson, John Allen en Francis Galton, skrywers van ’n boek oor Suider-Afrika, die meer eerste besoek, gevolg deur die geoloog dr. P. Hermann in 1911. Die plantkenner Kurt Diner het ook ’n aantal onbekende spesies hier versamel.

Toe die “Schutztruppe” in 1915 hulself aan die Unietroepe oorgegee het, het hulle hul wapens in die meer gegooi, wat volgens Guenther Walbaum 30 kanonne en 400 tot 500 bokse ammunisie ingesluit het.

Die Suid-Afrikaanse soldate kon dit egter maklik uit die meer haal, omdat dit slegs 3 meter van die oppervlak op ’n rots gelê het.

Twee klein veldkanonne wat uit die meer herwin is, het vir jare voor die Tintenpalast in Windhoek gepryk, terwyl ander in die museum op Tsumeb gehuisves word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer