‘Profeet’ Babi met drie renosterstropings verbind

Sake vir verhoordoeleindes saamgevoeg
Elf verdagtes is in verband met vier afsonderlike voorvalle van renosterstropery in die Etosha Nasionale Park in hegtenis geneem.
Ellanie Smit
Die selfverklaarde profeet Jackson Babi word tans met drie afsonderlike voorvalle van renosterstropery verbind wat nou vir verhoordoeleindes saamgevoeg is.

Die verhoor begin in Augustus op Gobabis. Tot op hede is 11 verdagtes in verband met vier afsonderlike voorvalle van renosterstropery in die Etosha Nasionale Park in hegtenis geneem. Volgens die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, volg die onlangse arrestasies op die jongste ontdekking van ten minste 12 swartrenosterkarkasse in Etosha verlede maand.

Die aantal voorvalle van stropery in die land vir vanjaar staan tans op 22. Ná die onlangse ontdekking van karkasse in Etosha, sê Muyunda is wetstoepassingpogings verskerp. Danksy intelligensie-gedrewe operasies en ondersoeke is verskeie inhegtenisnemings gemaak in gebiede wat aan die park grens.

“Al die arrestasies en gekonfiskeerde items is vermoedelik met die onlangse voorvalle van stropery in die park verbind,” sê Muyunda. Tydens die gesamentlike operasie is items soos onder meer twee voertuie, vyf gewere, ammunisie, byle, messe sowel as sowat N$50 000 in kontant in die verdagtes se besit gevind.

Volgens Muyunda word dié items onderwerp aan indiepte-ondersoeke om ’n positiewe verband met die karkasse in Etosha vas te stel.

Die 11 verdagtes bly in aanhouding en die sake is vir verdere ondersoek tot 8 Augustus, 24 Augustus en 3 Oktober in die landdroshowe in onderskeidelik Ondangwa, Tsumeb en Okahao uitgestel.

Die verdagtes word volgens Muyunda met vier afsonderlike voorvalle van renosterstropery verbind.

Die verdagtes is mnre. Naeman Kangula (26), Agas Johannes Jafet (19), Matti Matteus Kauzapo (32), Elago Natangwe Elago (34), Kiinge Ignatius Kamati (18), Johannes Nelongo Shikongo (ouderdom onbekend), Mbayenovantu Katiti (45), Tjozondunge Murumbua (23), Kazoondu Mutambo (37) en Jonas Njamba Albina (ouderdom onbekend).

Volgens Muyunda word verskeie nuwe verwikkelinge in ander voorvalle ondersoek wat tans op die hofrol is.

Hy het verwys na ’n voorval in Augustus 2018 waartydens vier verdagtes by ’n verkeerskontrolepunt in hegtenis geneem is. Drie vars renosterhorings en ’n jaggeweer is in die voertuig gevind. Dié voorval word nou verbind met twee renosterkarkasse wat in dieselfde maand en jaar in Etosha gevind is.

“Ballistiese en DNS-bewyse het dié twee voorvalle positief met mekaar verbind. Die verhoor vir die voorvalle is vir vandeesweek in die Otjiwarongo-streekhof geskeduleer.”

In nog ’n hoëprofielsaak in Mei 2020 is twee renosterhorings tydens ’n geheime operasie op Otjiwarongo gekonfiskeer; twee horings en ’n jaggeweer is by die woning van Babi in die Kleine Kuppe-woonbuurt gevind; sowel as twee vars renosterkarkasse op ’n plaas in die Omahekestreek.

“Al drie dié voorvalle is ook deur ballistiese, DNS en ander tegniese bewyse met mekaar verbind. Die sake is vir verhoordoeleindes saamgevoeg, en die verhoor sal op 19 Augustus in die landdroshof op Gobabis begin.”

Hy sê dit is ’n duidelike aanduiding dat die gesamentlike wetstoepassingsoperasies tussen die ministerie, die polisie, die Namibiese weermag en intelligensie en ondersoeke deur die Blue Rhino-taakmag resultate oplewer.

“Wat belangrik is, is dat verdagtes in hegtenis geneem is vir byna al die renosterkarkasse wat gevind is. Dit behoort as ’n afskrikmiddel vir voornemende stropers te dien. Hulle mag dalk suksesvol ons renosters of van die ander wildspesies skiet, maar ons meedoënlose wetstoepassers gaan hulle beslis vastrek. Die wet is ook gewysig om vonnisse en boetes vir renosterstropery te verhoog.”

Die boetes vir stropery is tot N$25 miljoen vanaf N$200 000 verhoog, en vonnisse vanaf 20 jaar tot 25 jaar.

Muyunda sê die gesamentlike operasie lei ook tot die inhegtenisneming van verdagtes voordat hulle kan stroop.

Twee verdagtes is onlangs met onder meer ’n .303-geweer, 11 rondtes ammunisie, ’n knaldemper, byle en ’n messe in hul besit vasgetrek. Die twee was op pad om ’n renoster in Etosha te stroop, maar is gevang voordat hulle tot die daad kon oorgaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!