Rob in lyn gevang

Seerommel raak reuseprobleem
Kuslangs raak robbe, walvisse, seeskilpaaie en seevoëls in toue en vislyne verstrengel.
Tanja Bause
’n Pelsrobwyfie is verlede week in Bakersbaai by Lüderitz waargeneem met ’n langlyn wat om haar nek verstrengel is.

Die lyn is besig om haar stadig maar seker te verwurg terwyl sy ook nie meer kan vreet nie.

Langlyne is ’n visvangtegniek waar lyne van tot kilometers lank met duisende hoeke met aas aan in die water gesleep word. Dit word op verskeie maniere in Namibië in die see en damme gebruik.

Dié tegniek word al vir dekades lank wêreldwyd as gevaarlik en onvolhoubaar vir biodiversiteit beskou.

Dit weens byvangste en talle bedreigde spesies wat in die lyne verstrengel raak. Die slagoffers is voëls, soos albatrosse en stormvoëls, tot skilpaaie en bedreigde haai en ander seediere.

“Die langlyn waarin die rob by Bakersbaai verstrengel is, is ’n tipe lyn wat diepsee langlyntreilers gebruik om tuna en haaie in ons waters te teiken.

“Die dik nylontou met ’n dunner staallyn (hoofsaaklik gebruik om haaie mee te vang) sny diep in haar nek in, terwyl seevoëlvere binne die verstrengelde lyn gesien kan word, wat daarop dui dat dié seerommel reeds twee slagoffers geëis het.

“Ongelukkig kon ons nie sonder hulp en toerusting dié dier help soos ons kollegas van Ocean Conservation Namibia (OCN) op Walvisbaai en die omgewing doen nie,” het Jean-Paul Roux van Lüderitz Marine Research gesê.

Naude Dreyer en sy span van OCN het vanjaar reeds 662 robbe bevry wat in rommel verstrengel geraak het, hoofsaaklik by die robkolonie by Pelikaanpunt.

Volgens Jessica Kemper is see- en strandrommel ’n reuseprobleem al langs die kus.

“Naude doen wonderlike werk om die diere te red. Dit sou natuurlik meer ideaal gewees het as die see rommelvry was en die diere nie verstrengel geraak het nie.

“Ek wil nie eens weet hoeveel diere ellendig vrek omdat hulle nie gered kan word soos die rob by Bakersbaai nie. Dit is natuurlik nie net robbe en walvisse wat verstrengel raak nie. Hier by ons is dit veral seemeeue op die strande, maar ook albatrosse in die see en seeskilpaaie wat in die rommel verstrengel raak of vishoeke insluk,” het sy gesê.

“Ek het ’n pikkewyn met ’n seer been langs sy nes op Halifax-eiland gevind. Sy been het waarskynlik in ’n stuk vislyn verstrengel geraak en die lyn het in die bos vasgehaak.

“Hy het seker dae lank tevergeefs probeer om sy beseerde been uit die bos te trek en toe ellendig van honger gevrek. Sy maat het eers op haar eie probeer om die eiers uit te broei, maar toe moed opgegee.

“Dit is maar net een voorbeeld van veral voëls wat vrek omdat hulle in vislyne verstrengel raak. Soos ek gesê het, die probleem is groter as wat ons dink. Niemand behalwe Naude kyk so noukeurig na die rommelprobleem nie.”

Roux het dié verstrengelde rob gewaar ’n paar dae nadat ’n boggelrugwalvis op Walvisbaai in ’n spooktou van ’n verlate oesterplaas verstrengel geraak het.

Dié walvis kon egter suksesvol bevry word.

“Sulke voorvalle is tekens dat ons strewe na ‘verantwoordelike en volhoubare visvang’ nog ver van ’n realiteit is, “ het Roux gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!