Skedelkus onder wêreld se top tien

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Een van die mees ongerepte, verlate en windverwaaide strande in Namibië wat die geheime van lang vergane skepe en die reise van majesteuse seediere dig teen haar bors bewaar, is as een van die wêreld se top strande aangewys. Die Skedelkus is negende op ’n unieke lys van 100 van die wêreld se top strande soos aangewys deur BeachAtlas, gebaseer in Londen en dié gids wat spesialiseer in strande oraloor in die wêreld.

BeachAtlas (https://www.beachatlas.com/golden-beach-award-2024) beskryf die Skedelkus, bekend as die Hekke van die Hel, as ’n verlate strook in Namibië waar die Benguela-seestroom die woestyn ontmoet. “Die onheilspellende naam kom van die geraamtes van walvisse en verskeie skeepswrakke wat al langs sy strande gestrooi lê. Die Ovahimba’s wat die walvisbene vir hul hutte gebruik, dra by tot die streek se unieke kulturele landskap. Hierdie onherbergsame dog fassinerende gebied wys die skerp skoonheid en meedoënlose uitdaging van die natuur.”

Davor Pavic van BeachAtlas verduidelik die soektog na die wêreld se beste strande fokus tipies op hul visuele aantrekkingskrag – poeiersand en skoon blou water.

“Ons keuse strek verder as die konvensionele en omarm ’n ryker tapeserie van wat ’n strand merkwaardig maak,” verduidelik Davor.

Volgens hom is vanjaar se keuses die eerste keer wat uitgebreide kriteria soos onder meer die waarde vir die plaaslike gemeenskap asook kulturele betekenis insluit. Davor sê dié breër perspektief het BeachAtlas in staat gestel om “lig te skyn op strandjuwele wat tipies nie ’n tradisionele, een-dimensionele ‘beste strand-lys’ haal nie”.

Gebaseer op die kriteria is ’n verkiesingsproses ontwikkel waar BeachAtlas uitgekose reisfoendi’s en smaakmakers van oraloor in die wêreld uitgenooi het om te stem en te help om die lys saam te stel. Die kriteria sluit in: klassieke skoonheid - dink strande wat die perfekte poskaarprentjie van goue strande en deurskynende blou water; partytjie en leefstyl – Ibiza se energieke strandpartytjie en naglewe of Dubai se eksklusiewe oorde; gemeenskap – strande soos Copacabana in Brasilië is ’n integrale deel van hul stede se identiteite en sosiale lewe waar plaaslike kultuur en gemeenskapslewe floreer; natuurlike diversiteit – van natuurlike strandfronte van mere en rivieroewers tot uniekie formasies; kulturele betekenis – strande met historiese belangrikheid of ’n sterk teenwoordigheid in popkultuur ingesluit dié wat op die silwerdoek verewig is.

Davor verduidelik die akkuraatheid van algoritmes is met die insig van reisfoendi’s en smaakmakers gekombineer en so ’n versameling verseker wat beide deur data gedryf en diep deur menslike kundigheid beïnvloed is.

“Ons het 100 strande volgens die kriteria gekortlys en so ’n uiteenlopende en inklusiewe seleksie gewortel in data verseker. Reisfoendi’s en smaakmakers het toe vir hierdie strande gestem en hul persoonlike insette gelewer om die lys te verfyn en te rangskik.”

Buurland Suid-Afrika se gewilde Boulders-strand is tweede op die lys.

“Boulders Beach in Suid-Afrika is nie net 'n skilderagtige stuk sand nie, dit is 'n bedrywige metropool vir Afrika-pikkewyne, ook bekend as bril(Jackass)-pikkewyne. Hier kan jy op die strand ontspan terwyl jy kyk hoe pikkewyne in hul aandpakke voor jou paradeer, ’n bewys dat strandlywe in alle vorms en groottes kom.” Bora Bora in Frans-Polynesië is as die top strand in die wêreld aangewys.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!