Sprinkane teister steeds Suide-boere

Swerms tans suid van Mariental
Boere in die Suide veg dag en nag op eie koste om die buitengewone sprinkaanplaag wat tans ernstige skade berokken, te bestry.
Tanja Bause
Die suide van die land gaan tans gebuk onder ’n ongekende sprinkaanplaag waarvan die einde nog nie in sig is nie.

Boere en werkers is doodmoeg en finansieel uitgeput. Baie van die ouer boere het ondervinding met die bestryding van sprinkane, maar selfs hulle sê vanjaar se sprinkaanplaag is ongehoord. Die swerms sprinkane is tans suid van Mariental.

Volgens mnr. Jörg Gaugler, die voorsitter van die Helmeringhausen Boerevereniging, het die plaag in Oktober in die Noord-Kaap begin en het die sprinkane oor die Oranjerivier gekom.

“Boere by Karasburg het die eerste groot probleem ondervind. Die sprinkane het al hoe meer noord begin beweeg en tans is hulle oral in die Suide; hulle is verby Aus en in die Tirasberge en beweeg noord deur die Namibwoestyn. Hulle is net suid van Mariental. As hulle Stampriet of die Hardapskema-boere bereik dan het ons ’n groot probleem.”

Die probleem volgens hom is dat talle plase in die Suide leegstaan asook hervestigingsplase waar die sprinkane onverhinderd kan uitbroei.

“Skielik is daar ’n swerm. Talle vlieërs word opgemerk. Talle voetgangers het in die laaste twee tot drie weke uitgebroei. Dit hou nie op nie. As ons nou ’n groot koue kry met ryp, sal dit ons help. Die eiers sal nie uitbroei nie en die voetgangers sal stadiger loop, maar ongelukkig kan ons nie die weer beheer nie.”

Volgens Gaugler is die indirekte koste besig om die boere ’n knou toe te dien.

“Ons benodig meer vrywilligers. Die boere is moeg, die werkers is moeg en hulle is nou al in oortyd op oortyd, want hulle werk aanhoudend. Sommige boere veg al vir die afgelope ses weke en spuit dag en nag gif. Ongelukkig is die lande groot en ons het baie water nodig. Die brandblusser staan agter op ’n bakkie en gebruik 600 liter water wat dan met die gif gemeng word. Dit word met hoë druk vir meters ver op die sprinkane gespuit. Maar dit hou net sowat ’n uur en dan moet ons weer ry en water gaan haal. So ry ons die hele tyd op en af en dit vat baie brandstof. Sommige boere in die kommunale gebiede bestry al sedert Februarie op hul eie kostes die plaag.”

Volgens hom het die Suide ’n goeie reënjaar beleef en is die weiding besonders goed wat beteken dit is optimaal vir die sprinkane.

“Die boere het nog nie van die droogte van die afgelope agt jaar herstel nie. Ons het nou die droogte oorwin, natuurlik het dit nie geld gereën nie, maar die veld lyk goed, en nou kom die volgende ramp. Die boere het nie geld nie. Hulle het nie die finansies nie en die regering voorsien geen hulp nie. Hulle het een span wat met een voertuig spuit, maar hulle spuit vandag in Bethanie en môre in Keetmanshoop. Só kan jy nie ’n verskil maak nie. Die boere gee egter nie op nie. Hulle staan bymekaar en veg onophoudelik teen die plaag.”

Volgens hom het die boere nou almal se ondersteuning nodig. Die fonds Droogtehulp Namibia wat tydens die droogte gestig is, is opnuut geaktiveer; die keer om met die bestyging van die sprinkane te help.

“Ons is dankbaar vir die fonds wat broodnodige skenkings insamel om ons te help. Die boere moet egter ook gemotiveer word om aan te hou. Hulle moet weet almal in die land staan agter hulle en hulle is in almal se gebede. Die boere moet besef hulle is nie alleen in die stryd nie. Ons besef niemand het geld nie en dinge is oral moeilik, maar ons Suide-boer voel dikwels dat ons op ons eie is.”

SWARTRAND

Mnr. Andre Coetzee boer naby Helmeringhausen by die Rooirand.

Hy het min sprinkane op sy plaas en help dus die boere op die Swartrand.

“Die eerste vlaag het die Swartrand in Maart getref. Dit was vlieërs wat vanaf Berseba se rigting beweeg het. Die boere kom in die aand net voor sononder bymekaar en dan spuit ons. Die boere gebruik spreiligte en spuit tot laat in die aand. Vroeg die volgende oggend spuit jy weer, want as die sprinkane vlieg is dit te laat. Die vlieërs het eiers gelê wat nou weer uitgebroei het en nou het ons weer voetgangers. Ons doelwit is om te keer dat hulle aanhoudend eiers lê, anders sal dit nooit ophou nie.”

Coetzee boer nou al 17 jaar op sy plaas en hy het nog nooit so baie sprinkane en so ’n groot plaag beleef nie.

“Ons het in 2011-’12 sprinkane gehad, maar dit was die normale swerms. Dié hoeveelheid het ek nog nie beleef nie. Ek dink al wat gaan help is om hulle uit ’n vliegtuig te spuit. Party plekke is net te onbegaanbaar. Die boere ry hul voertuie stukkend en kan nie by al die plekke uitkom nie.”

Coetzee vertel hy het Saterdag gedink die stryd is gewonne toe hy bo-op die Swartrand gery het.

“Dis baie klipperig en die sprinkane loop in die pad. Ek het hulle gespuit en gedink ons wen, maar toe ek in die veld ry, het ek gesien dit is nie waar nie. Nog duisende was in die veld. Die gras is afgevreet; net stokkies met niks voedingswaarde het agtergebly. Die grondbedekking wat die winterkos is, is ook opgevreet. Dit is baie erg. Talle boere is nou besig om hul kudde ná die droogte op te bou en kan nie bekostig om hul veld te verloor nie.”

Volgens hom help die boere mekaar want sommige baklei nou al vir tot ses weke teen die sprinkane en kom dus nie by hul boerdery-bedrywighede uit nie.

“Die boerderye staan stil. Die mense is moeg en moedeloos. Ons sien al weer kleintjies en weet hier kom die volgende vlaag. Dit hou net nie op nie.”

KEETMANSHOOP

Me. Dalena Kruger het gister vanaf Keetmanshoop na Aranos gery en berig dat sy 20 kilometer buite Keetmanshoop die eerste swerm sprinkane gesien het.

“Hulle kom soos ’n dik streek van links uit die veld geloop en loop dan oor die pad. Dis ongelooflik. Ek het tot na die 30 km-aanwysingsbord ses sulke swerms voetgangers teëgekom. Die boere het dringend hulp nodig.”

’n Boer van ’n plaas net buitekant Rosh Pinah het ’n week gelede sprinkaanvoetgangers op sy plaas gespuit. Maandag het swerms vlieërs hul opwagting op sy plaas gemaak.

“Dis beslis nuwe swerms. Ons het nie sulke grotes verlede week hier op die plaas gehad nie.’

HULPFONDS

Me. Henriette Le Grange het gesê verskeie skendings is reeds ontvang en die grootste behoefte bly die regte gif en brandstof.

“Ons wil graag by die Swartrand gif vanuit ’n vliegtuig spuit, maar dis hopeloos te duur. Die swerms is groot en hulle beweeg vinnig.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!