‘Stel parlementstuine oop vir die publiek’

Park is reeds in 2017 gesluit
'n Heining met doringdraad is verlede jaar om die parlement se tuine opgerig.
Tanja Bause
“Die tuin is van uiterste belang vir mense. As ’n terapeutiese oop ruimte wat toelaat dat families in ’n veilige omgewing saam tyd kan deurbring, wat mense se geestestoestand gaan verbeter en gaan help om te sosialiseer. Ons moet die owerhede wys dat ons weer toegang tot die tuine wil hê.”

So lui ’n petisie wat eis dat die parlementstuine in Windhoek weer vir die publiek oopgestel word.

“Die parlementstuine is een van die min groen ruimtes wat ons in die hoofstad het. Ons het grootgeword met familiepieknieks in die tuin. Ons het ons matriekafskeid- en troufoto’s in die tuine geneem. Dit is hoog tyd dat die park weer vir ons oopgestel word. Die tuine is nou al lank genoeg gesluit,” is een van die kommentare op die petisie. Meer as 600 mense het reeds die petisie onderteken.

“Die tuine is deel van ons en ’n baie mooi plek in die natuur wat ons veral deesdae dringend vir ons geestesgesondheid benodig. Dit was ’n veilige en mooi plek waar verskillende kulture bymekaar kon kom.”

Die parlementstuine is in 2017 vir die publiek gesluit sodat die plante kan herstel. In 2021 is ’n heining om die tuin opgerig.

Die hoofwoordvoerder van die Nasionale Vergadering (NV), mnr. David Nahongandja, het toe gesê die heining se doel is om toegangsbeheer van die perseel op te skerp waar die kantore van die eerste minister, buitelandse sake, die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie en die SADC- parlementêre forum gebaseer is.

“Die nuwe heining met sy doringdraad help ook om vandalisme hok te slaan en die plante te beskerm,” het Nahongandja gesê.

OPENBARE PARK

“Die parlementstuine is ’n openbare park wat die regering namens alle landsburgers besit. Dit word met openbare geld in stand gehou en is in wese ’n openbare ruimte of gemeenskaplike eiendom, wat deur ons almal besit word en toeganklik vir ons almal is. In ’n demokratiese samelewing is dit van kritieke belang om sulke ruimtes te hê waar almal die reg het om vry te wees en te praat, sonder inmenging, en onafhanklik van ons agtergrond of sosioëkonomiese aansien,” het dr. Phillip Lühl, departementshoof van argitektuur, beplanning en konstruksie van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), gesê.

“Terwyl die ontspanningsaspek van die park – as een van die min parke wat goed onderhou word in die stad – belangrik is vir individue en gemeenskappe, is dit die politieke aspek van die park as ’n demokratiese openbare ruimte wat fundamenteel is.

“Dit blyk dat die 2020 #ShutItAllDownNamibia-betogings by die parlement die onlangse omheining van die park tot gevolg gehad het weens ‘veiligheidsredes’, wat nie publieke toegang moet ignoreer nie.

“Ander veiligheidsmaatreëls kan eerder getref word waar dit nodig is, maar die reg op vryheid van assosiasie en ’n vryheid van spraak moet ruimte gegun word,” het Lühl gesê.

Besoek https://chng.it/Cc6pZ7Gr vir toegang tot die petisie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!