Die stof oor die jag van die woestynaangepaste leeu Mwezi wil nie gaan lê nie. Foto Inki Mandt
Die stof oor die jag van die woestynaangepaste leeu Mwezi wil nie gaan lê nie. Foto Inki Mandt

Stof gaan lê nie oor Mwezi-leeujag

Delhra weier om plasings te verwyder
WildVeld Safaris het Izak Smit in 'n prokureursbrief beveel om alle inhoud wat dié niewinsgewende bewaringsmaatskappy by die jag van die leeu Mwezi impliseer, van al sy sosialemediaplatforms te verwyder.
Francoise Steynberg
Izak Smit van Desert Lions Human Relations Aid (Delhra) weier om sy plasings oor WildVeld Safaris op sy sosialemediaplatforms oor die jag van die woestynaangepaste leeumannetjie XPL 107, genaamd Mwezi, te verwyder.

Die Windhoekse regsfirma Cronjé Inc het opdrag van sy Amerikaanse kliënt Mark Misner van WildVeld Safaris gekry om Smit te beveel om alle inhoud wat sy kliënt by die jag van Mwezi betrek, van al sy sosialemediaplatforms te verwyder.

Daar word ook van Smit verwag om ’n openbare kennisgewing en verskoning op sosiale media te publiseer, waarin hy bevestig dat die inligting waarin WildVeld by die jag geïmpliseer word, verkeerd is. Smit moet hom ook weerhou van bykomende plasings wat WildVeld by die leeujag betrek.

Die regsfirma se instruksies is verder om voort te gaan met die regsproses om skadevergoeding te verhaal wat direk en/of indirek voortspruit uit die vermeende lasterlike plasings van Smit.

20 WERKSVERLIESE

Misner het aan Republikein bevestig dat werksverliese vir 20 werknemers onvermydelik is as ’n direkte gevolg van Smit se “lasterlike publikasies”.

Misner sê dit het ’n negatiewe impak op die bewaringsgebiede se wildwagtersprogramme en bewaringskenkings van meer as N$1 miljoen per jaar.

WildVeld is betrokke by die bewaringsgebiede van Ehirovipuka, Anabeb, Orupupa, Ozondundu en Omatendeka in die Kunenestreek, asook die Save the Rhino Trust en The Sustainable Wildlife Trust.

WildVeld bevestig hy betaal, huur of neem nie professionele jagoperateurs in diens in hul bewaringsgebiede of elders in Namibië nie, en neem nie deel aan enige jagaktiwiteite in die land nie.

WildVeld beweer hy het boonop geen voorafkennis van die jag van Mwezi gehad nie en op geen manier met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme rakende die jag saamgewerk nie.

Misner sê WildVeld was uniek geposisioneer om te help met die administrasie van hul bewaringsgebiede se jaghuurkontrakte terwyl hulle in die Community Game Guard-program belê en dit ontwikkel.

“Die program wat baie jare gelede deur Garth Owen-Smith gevestig is, het ongelooflike sukses behaal, en ons was trots om sy nalatenskap voort te sit terwyl ons kon,” sê Misner.

“Aangesien ons finansiering van buite benodig om ons doelwit as ’n niewinsgewende bewaringsmaatskappy te bereik, het die negatiewe sosialemediaveldtog dit vir ons onmoontlik gemaak om voort te gaan.”

Misner sê WildVeld werk daaraan om ’n gemeenskapsgebaseerde bewaringsorganisasie te verseker wat by hulle sal oorneem.

“Dit is ons hoop dat ons hierdie oorgang so vinnig as moontlik kan maak sodat ons gemeenskappe geen verdere skade ly nie.”

SMIT REAGEER

Smit het aan Republikein bevestig dat hy “’n dreigbrief” van Misner se regsfima ontvang het en in reaksie ’n brief teruggestuur het.

“Ons gaan nie die sosialemediaplasings verwyder nie,” het hy benadruk.

Smit wou nie sy reaksiebrief beskikbaar stel nie.

Hy sê WildVeld is onder die saambreel-bewaringsorganisasie Nacso as jagvennoot van vier bewaringsgebiede in Kunene gelys.

“Die saak is sensitief en hangende, aangesien die strafregtelike ondersoek van die Namibiese polisie en die Ombudsman se ondersoek na die omgewingsministerie nog voortduur,” het Smit gesê.

“Ons wag ook nog steeds op antwoorde van die ministerie.”

Die saak spruit voort uit die ministerie wat in Oktober 2023 die leeumannetjie in die Palmwag-omgewing van die Kunenestreek as ’n probleemdier verklaar en geskiet het omdat hy herhaaldelik vee gevang het.

Die leeu het volgens die ministerie in Julie verlede jaar 14 bokke gevang en later ’n brahmanbul by Palmwag. Mwezi was met ’n halsband toegerus om sy beweging te monitor.

Delhra het daarna ’n saak by die polisie aanhangig gemaak omdat Smit glo dat hierdie trofeejag dalk ongehoord of onwettig in ’n beskermde gebied soos die Palmwag-konsessiegebied of in die Skedelkuspark uitgevoer is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 25° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 22° | 30° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 18° | 30° Tsumeb: 20° | 24° Otjiwarongo: 17° | 27° Omaruru: 19° | 30° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 19° | 29° Henties Bay: 17° | 18° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 19° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 18° Mbabane: 19° | 21° Maseru: 17° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 18° | 20° Maputo: 24° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 19° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!