Strandwolf met halsband toegerus

Inligting van onskatbare waarde
Geneva is verlede week in Bakersbaai sowat 120 kilometer suid van Lüderitz met 'n halsband toegerus en talle monsters en afmetings is ook geneem.
Tanja Bause
’n Jong bruin hiëna-mannetjie (strandwolf), Geneva, is verlede week deur die span van Wildlife Vets Namibia, dr. Ulf Tubbesing en Mariska Bijsterbosch, met ’n GPS-halsband toegerus.

Geneva is in Bakersbaai sowat 120 kilometer suid van Lüderitz met die halsband toegerus en talle monsters en afmetings is ook geneem.

Dit is moontlik gemaak deur die natuurbewaarder en filmvervaardiger Ivan Carter en kameraman en fotograaf Sean Viljoen, wat saam met kameraman Keenan Ferguson die gebeure gedokumenteer het.

Die video sal later vanjaar op EarthX uitgesaai word.

Me. Marie Lemerle van die Brown Hyena Research Project het die spanne na Bakersbaai en die hiënas vergesel.

“Ivan en Sean het die Conservation Film Company begin. Hulle maak flieks en deel stories oor mense wat bewaringswerk doen. Hulle was geïnteresseerd om saam met dié projek te werk en hiënas met halsbande toe te rus. Hulle het Namibia Wildlife Vets se fooi geborg. Hulle het nie die halsband wat aangesit is, geborg nie, maar hulle het belowe om vanjaar twee bykomende halsbande te borg,” het Lemerle gesê.

Volgens haar is die data wat die halsbande verskaf van onskatbare waarde vir die bewaring van dié diere.

“Die data verskaf onder meer inligting oor hul habitat, waar hulle die meeste van hul tyd deurbring, die ligging van lêplekke, die hoofroetes wat hulle gebruik, die afstande wat hulle aflê en die tye wanneer hulle die aktiefste is. Die GPS-halsbande is ingevolge die dierewelsynsregulasies wat gewig betref, en dit het ’n afvalmeganisme wat ons toelaat om die halsband los te maak sonder dat ons die hiënas weer moet verdoof.”

In Maart 2020 het die twee mannetjies Brisbane en Riyadh by die Bakersbaai-robkolonie reeds halsbande gekry.

“Brisbane was al ouerig en hy het nooit verder as vyf kilometer vanaf die robkolonie en die hoofbron van kos wegbeweeg nie. Riyadh was ’n jong nomadiese mannetjie wat nog nie aan enige trop behoort het nie. Hy het gereeld die lang afstand tussen Lüderitz en die Oranjerivier geloop.”

Drie hiënas is verlede week gevang, maar net Geneva het ’n halsband gekry.

“Die ander twee was te oud en ons het besluit om hulle nie met ’n halsband toe te rus nie.”

Lemerle het opgemerk daar is ’n hoë digtheid van bruin hiënas rondom die robkolonies, veral rondom Bakersbaai.

“Sedert die begin van 2022 het ek 35 verskillende individue waargeneem. Mededinging vir kos en bakleiery kom voor. Dis hoekom baie van die hiënas beserings het. Bruin hiënas is egter aanpasbaar. ’n Wyfie wat ’n poot na ’n bakleiery verloor het, een van haar agterbene ontwrig en ’n paar tande verloor het, besoek steeds die robkolonie ’n paar keer per week en kry kos.”

SKENKINGS

Daar is nog een halsband oor wat nie aangesit is nie.

“Die sterk wind het die werk bemoeilik en sodra ons die halsbande van Ivan-hulle kry, kan ons dit aansit. Die koste is redelik hoog aangesien ons ’n veearts moet huur wat vanaf Windhoek moet kom en vir etlike dae hier moet bly. As mense met skenkings kan help, sal ons dit baie waardeer. Elke sent sal gebruik word om die wonderlike diere te beskerm.”

Die Brown Hyena Research Project se rekeningbesonderhede is:

Nedbank Namibia, Bismarckstraat, Lüderitz.

Lüderitz tak, Tak kode: 461610

Rekening nommer: 11010015024

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!