Vultures Namibia merk al meer as 25 jaar aktief aasvoëlkuikens in die Namib-Naukluft Park. Foto Vultures Namibia
Vultures Namibia merk al meer as 25 jaar aktief aasvoëlkuikens in die Namib-Naukluft Park. Foto Vultures Namibia

Suider-Afrika: Aasvoëls dra U$1,8 mjd. by tot ekosisteem

Ellanie Smit
Aasvoëls verskaf jaarliks ekosisteemdienste ter waarde van sowat U$1,8 miljard aan Suider-Afrika.

Dié dienste sluit onder meer sanitasie en plaagbeheer in, volgens ’n verslag wat deur BirdLife International uitgereik is, wat die ekonomiese waarde gedokumenteer het van ekosisteemdienste wat deur aasvoëls in Suider-Afrika verskaf word.

Terwyl die studie spesifiek op Botswana, Zimbabwe en Zambië gefokus het, het dit wel genoem dat die ekonomiese dienste wat deur aasvoëls in Namibië gelewer word, sowat U$12 miljoen beloop.

Volgens die verslag is hierdie bevinding betekenisvol aangesien Afrika die tuiste van 11 aasvoëlspesies is.

Sewe staar die risiko van uitwissing in die gesig, aangesien dié spesies gelys is as kwesbaar, bedreig of kritiek bedreig op die die Wêreldbewaringsunie (IUCN) se rooilys.

Aasvoëlbevolkings het ’n kommerwekkende afname beleef, met die Afrika-aasvoël se getalle wat oor die afgelope vyf dekades met 80% tot 97% gedaal het, met sommige spesies wat ’n afname van meer as 92% in die gesig staar, volgens die studie.

Die verslag toon dat die vernaamste bedreigings vir aasvoëls op die vasteland vergiftiging (wat verantwoordelik is vir 61% van aangetekende aasvoëlvrektes oraloor Afrika), geloofsgebaseerde gebruik (29%) en elektriese skokke deur energie-infrastruktuur (9%) insluit.

“Om hierdie daling te stop en om te keer is noodsaaklik om te voorkom dat aasvoëls uitsterf.”

Die verslag beklemtoon ook dat indien daar nie opgetree word om aasvoëls te bewaar nie, die welsynsverlies ongeveer U$47 miljoen per jaar sal beloop.

Aan die ander kant sal bewaringsbedrywighede lei tot welsynswinste van U$30 miljoen per jaar.

Navorsers het ’n ekonomiese waardasie uitgevoer van die ekosisteemdienste wat deur aasvoëls in Suider-Afrika verskaf word. Hulle het dit gedoen deur data in te samel wat ’n oorsig van literatuur en vier opnames van verskillende begunstigde groepe geteiken het. Dié groepe was plaaslike gemeenskappe in die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied, die algemene publiek in elke land, die internasionale publiek en veldwagters en parkbestuurders.

“Bykomende werk is nodig om die volle waarde van aasvoëls in die beheer van siektes in vee en wild te kan kwantifiseer, wat ’n holistiese One Health-perspektief op die waarde van hierdie ekosisteemdiens moontlik maak,” volgens die navorsers.

Ses aasvoëlspesies broei in Namibië. Met die Egiptiese aasvoël wat onlangs in Namibië uitgesterf het en die Kaapse aasvoël wat byna uitgesterf is, is al die oorblywende aasvoëlspesies – witkop, kap, lapgesig en witrug – nou ook kritiek bedreig in Namibië.

Gif was die afgelope paar dekades die grootste bedreiging vir die aasvoëls in Suider-Afrika.

Tipies het kommersiële veeboere onoordeelkundig gifstowwe soos strignien gebruik om roofdiere soos jakkalse dood te maak, met die gevolg dat aasvoëls dikwels die indirekte slagoffers was.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer